Annatjie Louw
Annatjie Louw

Ons gisters word buit

Sê maar net 30 jaar gelede
Annatjie Louw
Enige hoë gedagtes of humoristiese uitsprake rondom ons diefstalvlaag (“hulle is die slagoffers van omstandighede buite hul beheer. . . dis blote herverdeling van rykdom”) word oombliklik stopgesit die dag wanneer jy self rot en kaal besteel word.

Dit kos net ’n polisie-oproep van ver wat sê daar’s by jou ingebreek, twee maal op een dag – en die “arme, honger” diewe word dadelik X?Z9%@$!! se diewe. . .

Nadat ek as kind laas fiets gery het, het ek in my grysheid ’n tweedehandse fiets gekoop. ’n Bloue met rooi aarbeie, en ’n wit mandjie voor op. Dit het ses maande van wag gekos vir ’n geleentheid om die fiets op Henties te kry. Een naweek lank kon ek in die misweer langs die see af ry.

Toe die tyding kom dat die huis op Henties leeg gedra is, het ek sommer geweet die fiets is weg. Die polisie het die wielspore buite in die sand gekry, maar in die hardepad het dit weggeraak.

Dis ’n vroumensfiets. Wat wil ’n mansmens daarmee maak? Ek wéét dis ’n man wat die fiets gesteel het. Ons vrouens steel anders. Ons steel geld, klere, juwele, mans, komberse, kos. Ons steel nie rygoed nie, want baie van ons kan nie ry nie.

Nou wil ek langs hierdie weg vir die X?Z%@$!! se mansdief vra of hy nie maar die fiets sal terugbring nie.

Stoot hom net om die huis. Daar sal ou Boddy hom kry en wegsteek totdat ons weer daar uitkom. Langs dieselfde weg wil ek vir die dief wat ons ou komberse en ou klere gesteel het, vra om dit terug te bring.

Dit vat lank om komberse oud te slaap. Dit vat ook lank om van ou lappies ’n lappies-kombers te maak. Die dief sal mos nie weet van die stories aan elke lappie nie. Soos dat die stukkies blou dateer uit die dae toe ons sis op die Parade kon koop vir dertig sent ’n meter. Ons moes baie koop, want dit was die dae van die maksi’s. Ons roksome het die sypaadjies gevee.

Ons het gelyk soos operasangers met die lang gewade by die werk. En wee jou die dag as die Suidooster op die Strandgebied waai. Dan is jy soos ’n skip in volle seil pad af gestoot.

Die rooi lappie was deel van ’n mini en herinner aan die dag wat die regtersklerk met haar lang perdegesig voor almal in die hof kom sê het: “Miss Pienaar, your dress is far too short for the court.” (Vandag weet ek natuurlik ons het ons rokke skandaliglik kort gedra. En miskien het die regtersklerk nie ’n lang perdegesig gehad nie.)

Ai, en hoe lank neem dit nie voordat ’n broek en baadjie ingedra is nie? ’n Mens vee mos nie aashande af aan nuwe klere nie. Tweedehandse klere kan jy koop, ja, maar jy kan nie hul stories daarmee saam koop nie.

Raai wie was boonop nie verseker nie? Wat help dit ook tog. Jy kan nie terugkoop wat jy aan strandgoed verloor het nie. En bowendien word jy gepenaliseer as jy durf eis teen ’n diefstalpolis.

Die direksie onkoste aan die inbraak was R55 vir ’n gebreekte ruit, waarvoor ’n mens seker moet dankbaar wees. Hoekom nie diefwering aanbring nie? As ’n dief wil in, sal hy die diefwering met ’n koevoet opbreek of die voordeur met ’n byl oopkap. Binne- of kasdeure wat gesluit is, se slotte word oopforseer.

Een vrou vertel dat sy gehoor het ’n mens moet gordyne voor jou venster sit sodat die diewe nie kan inloer na wat binne is nie. Sy laat maak toe by ’n vriendin gordyne. Daar is kort daarna by haar ingebreek. Die diewe is met die gordyne vort!

(Iemand het Woensdagoggend ingebel na die geselsprogram van Robin Tyson met die volgende op die hart: Die mense wat van plan is om aan die protesoptog van môre deel te neem om beswaar te maak teen die diefstal in die land, moet tog maar versigtig wees vir sakkerollers, motordiewe en inbrekers wat van dié geleentheid gebruik sal maak om toe te slaan!) – 19 Junie 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!