Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Ons kry ’n paar dinge wel reg

Iréne-Mari van der Walt
Ek besef ek klink soos ’n ma by haar kind se kleuterskoolkonsert wanneer ek sê: “As daar ’n kompetisie vir die mooiste land ter wêreld was, het Namibië waarskynlik stof in die ander lande se oë geskop.”

Tydens ’n onlangse besoek aan die Suide beland ek langs ’n Suid-Afrikaner en kort voor lank sê sy dat Namibië eintlik baie soos Suid-Afrika lyk.

Ek voel onmiddellik in die gesig gevat en wil amper soos ’n klein kind vir haar sê: “Issieman,” en sommer my tong ook uitsteek om my misnoeë te kenne te gee.

My metgesel sê toe dat baie dinge wat sy in Suid-Afrika kan kry, sy hier ook kan kry. Issieman.

Ek probeer toe haar standpunt insien en kyk by die voertuig se venster uit. Tot my eie irritasie besef ek sy is nie heeltemal verkeerd nie. Ek laat dit toe maar daar.

Met die terugryslag raak die voertuig stil en my geselsmaat vertel toe hoe lekker dit vir haar is om in Namibië rond te rits omdat ons paaie so mooi in stand gehou word. Is man!

En ons het krag net wanneer ons dit wil hê en ons kan vinnig deur ’n stort spring want daar is altyd water in ons krane, verduidelik sy. Is mos.

“Selfs ons binnelandse sake is doeltreffend,” vertel ek en onthou ’n besoek aan Suid-Afrika se binnelandse sake toe ek 17 was. Ek is bevoorreg genoeg om ook ’n Suid-Afrikaanse burger te wees, maar moes vir ’n SA identiteitskaart aansoek doen.

Ná ’n dag by binnelandse sake – waar ek drie keer in dieselfde ry voor die hoofingang moes sit – het ek steeds sonder ’n identiteitsdokument daar uitgeloop. Dit met die belofte dat ek die dokument iewers in die toekoms nog sal kry.

Toe ek onlangs by die Namibiese ministerie van binnelandse sake se spoggerige nuwe gebou moes aanklop vir ’n nuwe Namibiese identiteitskaart, was ek so gereed vir dit soos ’n soldaat vir oorlog is. Met biltong en ander eethappies in my rugsak asook ’n koeldrank en ’n bottel water en natuurlik die dik lêer waarin elke gedrukte en geskrewe stukkie papier wat enige regering nog ooit vir my en my ouers gegee het, durf ek hierdie taak toe aan.

Presies 43 minute later is die biltong nog net soos ek dit in my rugsak gelos het toe ek die lêer uithaal om ’n splinternuwe stukkie van die regering se papier daarin te sit. Dis my “slippie” – die groot geveg waarop ek my weke lank voorberei het, was toe eintlik net ’n skynaanval. Ek het in daardie 43 minute nog tyd gehad om iemand anders te help.

Dit is wel hartseer dat geliefdes uit Suid-Afrika met krag en water moet sukkel, wat die absolute minste is wat jou regering veronderstel is om vir jou te gee.

Daar is natuurlik baie wat ons nog verkeerd doen, en hindernisse wat ons nog moet oorkom, maar krag, water en binnelandse sake is darem iets waaroor ons nie nou hoef te stres nie.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!