ons taal
ons taal

Ons Taal

Kô laat os sing
Onlangs het die tien plae van ouds weer in die taal van Jan Alleman uitgeslaan. ʼn Inwoner van KwaZulu Natal voel die tien plae teiken die provinsie nadat die een ramp ná die ander hulle tref. In die suide van Namibië woed tans ʼn sprinkaanstorm, die pandemie sleep steeds voort en iewers in almal se agterkop bly prut die senuagtigheid oor die oorlog in Oekraïne. ʼn Mens voel magteloos in tye soos dié.

Watter rol moet jy speel as dié dinge ver van jou af afspeel, maar jou steeds raak? Miskien het Adam Small tog die antwoord gehad in sy gedig “Kô laat os sing”:

Ma’ die Here sê vir hom: djy sal djou mense lei / wat’s in jou hand? / en Mosas sê: ʼn staf / nou vrinne dit is al wat hy gahad het / hierie man van God / ʼn staf / ʼn dooie stok / en boenop het hy nog gahakkel ok / ma’ die Here het toe lank met hom gapraat / oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat/ het die Egiptenaar / en Mosas het sy groote kop lat hang / en toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ʼn slang! / nou vrinne,/ die Here het gabring / in my sy wonnerwerke oek so / hy het gevra wat’s in my hand / en vrinne, in my hand was my kitaar/ kô laat ons sing.

Laat die kunstenaars, skrywers, selfs TikTokkers en beïnvloeders, laat elkeen met ʼn talent hulle “staf” opneem en antwoord op die vraag: Wat’s in jou hand? Al voel ʼn mens se bydrae so nietig teen die groot dinge, of al het daardie einste staf al voorheen seergemaak, kan elkeen dit gebruik om in tye soos dié hoop te bring.

Kô laat os sing.

Annika van der Linde

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer