Ons taal
Generasiespel
Voor slimfone was daar slim duime – toe ek op skool was kon ons onder ʼn bank SMS sonder om te kyk, danksy knoppies wat jy tot vier keer moes pons om ʼn enkele letter te tik!
Behalwe vir SMS’e se karakterbeperking was dit vir lui, haastige tieners dikwels een duimdruk te veel om reg te spel: oe-klanke is toe sommer met “u” aangedui en vokale is dikwels weggelaat. Vandaar dan die kopseer vir ons taalonderwysers destyds, want die spelaanpassings het nie op die selfoonskerm gebly nie.
Die wiel draai – deesdae is dit ék wat met ʼn kopseer sit.
My hoofpyn begin én eindig met ʼn “h”, want “ja” word nou as “jah” gespel.
Vanwaar die ‘h’, Gehasi? Druis dit nie in teen die oënskynlike tienerinstink om haastig en lui te wees nie?
Vandag se jeug het, danksy slimfoontegnologie, ʼn heel ander motivering vir spelaanpassings.
Een van my studente het my ná my aanmaning ingelig dat dit wel ʼn doelbewuste keuse is: Dit klink glo “sagter”, blykbaar is “ja” te formeel!
ʼn Vinnige WhatsApp-soektog wys dat lede van die slimfoon-generasie my al sedert 2017 met “jah” teister. In 2019 het ek en my suster juis oor haar gebruik daarvan gepraat: sy voel die “h” is daar om haar stemtoon uit te beeld.
Ek vermoed die Engelse “yeah” is dalk hiervoor te blameer. . .
Hoe spelling in die hande van die volgende generasie gaan deurloop, kan ʼn mens maar net raai. Al wat ek nou weet, is dat dit lyk of daar uiteindelik uitsluitsel is oor ’n familiedebat: my suster (skaars vyf jaar jonger as ek) is inderdaad deel van ʼn ander generasie.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie