Ons taal
Moenie meer jou kop hieroor breek
Na afloop van die universiteits- en skolevakansie loop ek, ten spyte van my taalkundige agtergrond, my weer vas in een van daardie woorde wat my gereeld soos ’n donkie voor ’n nuwe hek laat vassteek.
Ek sal tot brekens toe verstar staan en my kop breek oor of dit nou “breek” of “breuk” is. Want iewers in my agterkop lui daar ’n klokkie dat slegs die werkwoord as “breek” gespel kan word en die selfstandige naamwoord “breuk” moet wees – of is dit nou so?
Op skool is sekere taalreëls en konstruksies by my ingedril, soveel so dat my onderwyser se harde stem tot vandag toe in my kop weerklink, soos dat ’n mens “óp ’n donkie, mét vakansie gaan”, net om later te hoor dat beide “op” en “met” aanvaarbare voorsetsels is (ek sien steeds my ma se selfvoldane grinnik toe ek moes bieg dat ek haar verniet al hierdie jare daaroor gepes het).
Danksy Viva-Afrikaans wat (al is dit nou al eintlik ou nuus) weer onlangs die nuus aan my gebreek het, kan ek nou ’n sug van verligting slaak dat “breek” nie meer my spoed hoef te breek wanneer ek skryf nie, want anders as in die verlede is “breek” ook in die nuutste AWS opgeneem as selfstandige naamwoord.
Al sou die petrolprys kon sorg dat baie van ons wel die donkie as gangbare vervoer oorweeg het om bietjie op (óf met) vakansie te gaan, was die afgelope mid-jaar reses van die universiteit net die breek wat ons nodig gehad het om met nuwe energie die volgende semester aan te pak.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie