Ons taal
Vlokkievreugde
Die afgelope paar dae het ons Namibiërs behoorlik aan die bibber, maar die temperatuur is eintlik nog heel skaflik in vergelyking met Bloemfontein waar ek verlede week ’n paar nagte se vriespunt moes trotseer. Dit het my weer my studentejare as Kovsie laat herleef. Soos ’n trotse Namibwoestynliefhebber was ek ’n eerstejaartjie in Huis Welwitschia. Ons was duimelinge, ook genoem Duimelizes – na aanleiding van die reuseteddiebeer genaamd Duimpie wat ons koshuis se skat in die glaskas was. Die manskoshuise se grootste uitdaging was natuurlik om vir Duimpie te steel. Maar in die koue, het ek veral teruggedink aan die oggend toe iemand douvoordag in die koshuisgang die woorde: “Dit sneeu!” geskree het. Soos blits was al ons Namibiërs bed-uit, gang-langs, trappe-af, voordeur-uit en het ons in die lieflike vlokkies gaan baljaar, want tot op daardie oomblik was sneeu vir ons maar net ’n leë woord. Daarna het die woord nooit weer dieselfde in ons ore geklink nie. Ons het met al ons sintuie die woord ons eie gemaak. Ja, destyds was ons koshuis, soos ons lied dit uitbasuin het, ons roem en voorreg, maar oos wes, tuis bes. Hier in my geboortestad groei en floreer betekenis in woordwortels steeds. Namibiërs gee volle glorie aan woorde soos vriendelikheid, openhartigheid, opregtheid in ons land waar die son oor almal mag skyn.
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie