Ons taal
Afgesaag
As iets te veel gesê of gedoen word, kan ons sê dis al holrug gery of dis afgesaag. Nou waar kom hierdie twee raaksê spreekwoorde vandaan? Ek sou raai die eerste een het iets te doen met ’n perd wat te veel gery word. Kom ons kyk wat sê Anton F Prinsloo se boek Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom daarvan. Presies. Dit kom daarvan dat die ryperd se rug later hol raak. Ons kan ook praat van holrug woorde as dit kleurloos en kragteloos geraak het as gevolg van oormatige herhaalde gebruik. Maar wat het ’n saag met die saak te doen? Want ’n saag se doeltreffendheid lê dan juis in die herhalende beweging. My boek moet weer kom help. Kan jy glo!? Dit het niks te doen met die goeie aksie van ’n saag wat herhaaldelik heen-en-weer beweeg en sodoende die tak afsaag nie. Die uitdrukking gebruik wel die beeld baie doeltreffend, maar verwys eintlik na die strykstok van ’n viool wanneer ’n sekere musiekstuk tot vervelens toe gespeel word en dus afgesaag raak! Daarom kan ons ook sê dis elke keer dieselfde ou deuntjie. Ons kan ook sê dis tot die dood toe vervelig. Wanneer dit ’n mens is wat vervelig is, kan ons sê hy/sy is ’n droë bokkem of ’n ou droë biltong. En dit herinner my nou aan die pittigheid wat lui: Om taai biltong te eet, is nie ’n straf nie – dis ’n se(ë)ning.
Petronella F Genis
[email protected]
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
[email protected]
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie