Ons taal
Vingertaal
Verlede week het ons ’n handvol sêgoed bespreek wat handel oor hande. Ons het onder andere gesels oor die handlanger wat die ander persoon help of figuurlik sy hande langer maak.
Ek kry toe die tong-in-die-kies navraag, of jou handlanger jou dan help steel, met die lang vingers en al. Die skuldige kan dan tussen vinger en duim verdwyn, of stilletjies wegraak. Dalk sien jy sy oortreding deur jou vingers. Wat ’n duidelike prentjie skets dit tog van iemand wat hand voor die oë hou en net deur die spasies tussen sy vingers loer om iets doelbewus mis te kyk. Jy sal selfs die vinger op die mond lê om te verhoed dat daaroor gepraat word.
Party mense is net nooit tevrede nie, want jy gee vir hulle ’n pinkie, dan vat hulle die hele hand. ’n Ander verbeur weer die kans om te vat wanneer sy iets (of iemand) deur haar vingers laat glip. As jy iemand in jou lewe het wat enige iets vir jou sal doen, draai jy hom om jou vinger.
Jou vingers jeuk om iets te doen wanneer jy nie kan wag om te begin nie. Wanneer jy oorhaastig raak, kan jy jou vingers verbrand, net soos die haastige hond sy mond. Wanneer jy jou hand oorspeel, sal jy dalk oor die vingers getik word.
Sou jy nooit ’n vinger verroer om ’n ander te help nie, is jou voorland dalk om vingeralleen te wees. Dis so eenvoudig jy kan dit op jou tien vingers tel, jy het nie eens ’n potlood en papier of ’n sompompie daarvoor nodig nie.
Petronella F Genis
[email protected]
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie