No Image Caption

Ons taal

’n Boek-storie
Hallo Ma

Het Ma al vir Dalene Matthee gewaar daar waar Ma bly? Ma, sê tog vir haar dat ek so ’n paar jaar gelede saam met Fiela se kind die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom meegemaak het. Boetman was toe hoeka op soek na Generaal Mannetjies Mentz, en dis ek, Anna, van alle mense, wat ook saamgepiekel het.

Ek en Boetman het vir sewe dae by die Silbersteins se appelplaas kamp opgeslaan om die fees van die ongenooides by te woon. Daar het ek uit die bloute op Raka afgekom. Hy het steeds ’n oog vir ’n mooi vrou, maar pluk ewe bedaard appels en gee een hele boks vir Azazel. En raai wie loop ek ook raak? Niemand minder nie as vir Poppie Nongena en Pieternella van die Kaap! Op dag twee het ’n paar binnelanders, Bart Nel, Heksie (die liewe ding!) en die sirkusboere ook daar ingesleep. En dit was die begin van die einde...

Saans het ons, om tot verhaal te kom, by fakkellig gesels oor die bitter heuning wat middagetes saam met die brood opgedien is. Maar die ergste was die reuk van appels, want Raka het die vrottes saam met die goeies verpak! Net daar het Poppie Nongena begin swerf, want Raka het opdringerig geraak. Pieternella het die pad effe byster geraak en doodmenslik (om den brode) ’n kamphoer geword. Sy het oopmond die grammatika van die liefde leer ken, maar het in haar rustiger oomblikke vir die oulike klein Loeloeraai Afrikaans leer praat! Liewe Heksie het in ’n bedonnerde diva ontaard en haar só opgeruk vir Raka toe dié saam met haar op haar besem wou ry dat sy hom ’n kopskoot gegee het. Die arme mensdier het gestamel en gesterwe. Hy het pastei geword, en onwetend dié wat honger of jags was van moontlike oortredings gevrywaar.

Ma, en toe is Boetman die bliksem in oor Trompie en sy bende wat op die hitte van die dag kringe in die bos hardloop. Op die plek belowe hy ’n losprys aan die hoof van sekuriteit, ene Fritz Deelman om die spul tot bedaring te bring. “Stinkafrikaners”, het Boetman steeds die volgende oggend gemompel, toe ons agter ’n eland aan is vir aandete. Ek het saamgegaan om kwansuis spoor te sny, en was agterna dankbaar dat ek nie so tussen wysvinger en duim die dier hoef af te slag nie. Maar saam eet wou ek eet! “Vatmaar”, het die kok geduldig gesê toe ek vroegerig al by die potte rondstaan.

Ma, my storie staan nou end se kant toe. Terloops, ek is op soek na die laaste Afrikaanse boek. Is dit dalk daar in Mamma-hulle se argief? Dalk het Karel Schoeman dit by hom gehad toe hy aangekom het. En Ma, het Ma die flardes van al 39 titels in my storie opgetel? Ja, goed, hier en daar het ’n liedjie of TV-reeks van ná Ma se tyd in my sage ingesluip.

Baai my Storie-Ma

Chrisna Beuke-Muir

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer