Ons taal
Tjoeftjaf, daar’s jy verslaaf!
“Het Juffrou gehoor die bleeksiel in die skool tjoef ook nou?”
“Hy wát?!”
“Tjoef, Juffrou. Dis die Afrikaans vir vape.”
Gou raadpleeg ek vir Google en so waar as wat padda manel dra, verskyn daar verskeie bronne vir tjoef. Die Urban Dictionary sê dis ’n byvoeglike naamwoord (adjektief) en die Afrikaanse woord wat meestal deur tieners gebruik word wanneer vape ter sprake is. Tjoef het ook JacarandaFM se lys vir slengwoorde gehaal en daar is selfs ’n winkel wat so heet.
In spreektaal raak tieners egter besonder kreatief en word tjoef sommer ’n werkwoord en selfstandige naamwoord en in nuutskeppings verbuig, byvoorbeeld: “Nadat ek getjoef het, het ek gaan draf om dit uit my sisteem te kry – ek noem dit tjoefen!” of “Kan ek gou tjoef aan jou tjoef?”
Dis natuurlik sinne so reg uit die mond van ’n suigeling en suigelinge is die tieners gewis, maar ongelukkig ook ouers, onderwysers en selfs laerskoolleerders as mens nuusberigte lees. Die koerante gebruik wel damprook en damprooktoestelle om na vaping en vapes te verwys. Ander sinonieme wat ook die rondte doen, is stokkie, vloed of fluit.
’n Mens is nooit te oud om te leer nie, nè? Ek sal eintlik maklik vir tieners preek oor die gevare en beklemtoon dat hierdie soetstokkie ’n bitter slegte gewoonte is; tog is ek as taalliefhebber trots daarop dat die Afrikaanse tieners spitsvondig is. Doen so voort om jul eie woorde te skep – só bly ons lieflingtaal lewend.
En my enigste verslawing bly Afrikaans.
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyser
en voormalige joernalis
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie