Ons taal
Van “boudstert” tot “koetskerk” – Afrikaans is onbeperk!
Waar is die dae toe my dogtertjie opgewonde na die “wingie” in die tuin wys? Nou word klei-wurmpies in haar vaardige kleuterhandjies gerol en Afrikaans rol vindingryk van haar bykans drie-jarige tongetjie af.
Ek dink nostalgies aan al die koddige woordjies waarvan “happoot” vir hardloop, en “skappertjie” vir “skoenlappertjie” die enigste bittereinders is. Maar nou verlustig ek my in haar nuutskeppings wat ʼn venster is tot haar wêreldbelewenis en denke.
“Boudstert”, haar eerste nuutskepping, verwys na ʼn eend se stert wat lyk op iets tussen ʼn boud en ʼn stert. Sedertdien het sy my hart vermurwe toe sy vra of sy die “huilspoegies” van my wange kan afvee, en daarmee was sy sommer die sonstraal in my bewolkte dag.
Daarenteen, sal ek erken, was ek effens verontwaardig toe sy die water wat ek vir haar aanbied wegstamp, want sy wil “gaan-haal-water” hê! Ek was ook effe verleë toe sy heel akkuraat my “supertube” vertaal met “waterglyplank’” (ja, ek weet, ek verdien om my eie medisyne te sluk!).
Taal is dit waarmee ʼn mens dink en sinmaak van ons werklikheid. Dít is net weer bewys toe sy onlangs deur ʼn ou National Geographic-tydskrif blaai en afkom op ʼn foto van ʼn Model T Ford wat met hout in ʼn mobiele kerk omskep is sodat slegs die groot speekwiele uitsteek – dadelik sê sy: “Mamma, kyk, hier is ʼn koetskerk!”
Hoewel ek treur oor die koddige babawoordjies wat plek maak vir die regte woorde, noudat selfs die r’e begin aantree, straal my Afrikaanse hart egter wanneer ek sien hoe Afrikaans klei word in daardie handjies.
Dit gee my hoop dat Afrikaans veilig in my kind se hande is. Haar Afrikaans is ʼn sprekende bewys van hoe lewendig en onbeperk die taal in die monde van sy sprekers is. Dit is so ʼn voorreg om te sien hoe moedertaalvaardigheid ʼn kind kan bemagtig om sy wêreld te begryp, ontsluit en verwoord.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie