Ons taal
Taalreus en geliefde joernalis gegroet
Hierdie week is daar nie woorde om oor ons moedertaal te skryf nie, daar is ’n groot gat in haar woordeskat, want een van haar werkwoorde is weg. Ons taal rou oor die verlies van ’n werkwoord wat so hard gewerk het om die taal in hierdie land te laat werk – daardie werkwoord is Ronelle Rademeyer.
Wanneer ek aan Ronelle dink is dit altyd met ’n diep waardering, en ’n gevoel dat ek en my familie ’n bondgenoot in haar gehad het. Hierdie gevoel teenoor haar kom egter al veel langer as wat my persoonlike verhouding met haar kom, wat eers relatief onlangs by die Windhoek Woordfees ontstaan het. Met haar afsterwe ervaar ek ’n diepgaande verlies aan daardie bondgenootskap, en ek begin wonder hoe en waarom hierdie gevoel so by my ingewortel was.
Miskien is dit omdat sy in my grootwordhuis ’n soort huishoudelike naam was vanweë haar joernalistieke betrokkenheid by landbou, miskien omdat my pa haar al sedert sy kinderdae ken, miskien omdat sy die stem van rede was in hierdie land teen die misinformasie tydens die Covid-19-pandemie. Miskien is dit omdat haar waardes en haar oortuigings en wêreldbeskouing aanklank gevind het by my, miskien omdat sy daardie tipe persoon is wie se oordeel en perspektief op ’n saak altyd versigtig oorweeg en gebalanseerd was, ’n mens kon nie anders as om haar daarvoor te respekteer nie. Uiteindelik besef ek dat al hierdie dinge waar is, maar die emosionele band, die diep waardering is afkomstig van die koestering en berusting wat haar artikel oor my oupa ten tyde van sy afsterwe vir my gebring het onder die titel “Landboureus en geliefde boer môre gegroet”.
Dit wat sy geskryf het, daardie talige nagedagtenis aan my oupa, daardie erkenning dat hy hier was en ’n verskil gemaak het, daardie woorde op papier was vir my ’n troos.
Ons is die getuies van mekaar se bestaan.
Met die verlies aan Ronelle voel ek weer daardie verlies en selfs onbeholpe om te probeer doen vir haar naastes wat sy met daardie artikel vir my gedoen het.
Ronelle, ek hoop dat ek met hierdie skrywe ten minste ’n sweempie van daardie troos kan bring wat jou artikel vir my gebring het. Dat almal wat rou oor jou heengaan in my skrywe saam met al die ander stemme wat hierdie week opgeklink het – berusting kan vind in die wete – jy het bestáán en jy het ’n groot verskil op soveel vlakke in soveel mense se lewens gemaak, ook vir ons taal. Ons dra jou in ons harte, dankbaar dat ons jou kon ken, en kwaad dat iemand soos jy so vroeg van ons geneem is. Die lewe is nie regverdig nie. Ons taal en lewens en land is armer sonder jou.
Rus sag taalreus, geliefde joernalis en wonderlike mens.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie