Ons taal
Wat is alles in jou museum?
“Wanneer kan ek weer in die museum kom kuier?”
Dis woorde wat my een vriendin al telkemale vir my geWhatsapp het as sy by my huis wil kom koffie drink. Ja, sy noem my huis die museum en ’n meer gepaste beskrywing daarvoor is daar seker nie.
Die HAT definieer “museum” as “gebou waarin voorwerpe van kuns of wetenskap versamel en uitgestal word”. My versamelstukke is nie noodwendig veel werd in rand of sent nie, maar die sentiment daarvan is onmeetbaar.
Ek het so ’n ruk gelede ’n nuwe kletsprogram op televisie gekyk en een insetsel daarin, is ’n kykie na besonderse huise in Suid-Afrika. By die een vrou se huis het sy gesê omtrent alles in haar huis het ’n storie. Ek voel ook so oor myne – dis vir my heerlik om met mense die stories te deel van waar iets vandaan kom, hoe dit by my beland het, of waarom dit in my museum hoort.
Diegene wat my ken, weet ook dat ’n besoek aan werklike museums my kinderlik opgewonde maak. Onlangs was ek so bevoorreg om die Iziko-museum van Suid-Afrika in die Kompanjiestuin in Kaapstad te verken. Wat ’n belewenis!
Namibië, my tuisland, het ander merkwaardige besienswaardighede, maar ongelukkig is museums nie een daarvan nie. Dis dalk waarom ’n buurland en Europa se museums my so bekoor en natuurlik waarom ek my eie tipe museumtuiste skep.
Ek het ook intussen besef my huismuseum is gevul met alledaagse dinge wat inderdaad my ouderdom verklap – soos onder meer regte woordeboeke op ’n boekrak en ’n DVD-speler. Uit hierdie woordeboeke leer ek nog steeds oor my taal en my Afrikaanse DVD-versameling het bewys goeie reekse en flieks in my moedertaal kan ongekende vermaak bied.
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyseres
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie