Ons taal
Baie moeg is. . .?
Hierdie tyd van die jaar gryp baie mense na ʼn vitamien B-12-inspuiting of -aanvulling, want dit voel net nie of ʼn mens die moegheid van jou kan afskud nie, al het jy ʼn goeie nagrus agter die blad.
Dan praat ons nie eens van die moegheid wat saam met swangerskap kom nie – die uitdrukking – “dit voel of ʼn trein my getrap het” draai daagliks in my kop as ek uitgeput namiddae tuis kom. Teen Donderdag is ek verby pootuit en klop aan doodmoeg se deur.
Van al die intensiewe vorme wat met “dood” geskep word, is “doodmoeg”, naas “doodstil”, seker van die akkuraatste beskrywings. In die slot van Joan Hambidge se gedig “Marilyn Monroe: foto in rou”, wat handel oor die laaste foto van Marilyn Monroe voordat sy selfmoord gepleeg het, vra die spreker die vraag: “was jy reeds tot-die -einde-toe / moeg?”. Hier suggereer Hambidge dat Marilyn op hierdie stadium van haar lewe dalk bykans letterlik doodmoeg was. Ironies genoeg word hierdie soort moegheid egter as “lewensmoegheid” beskryf. Hierdie lewensmoegheid is te danke aan die uitbranding wat baie van ons hierdie tyd van die jaar beleef. Veral in Oktober word lewensmoegheid op die spits gedryf wanneer die hoogste selfdoodsyfer jaarliks aangeteken word.
In hierdie maande moet ons dus sag wees met mekaar én met onsself. Die komende langnaweek is ʼn kosbare blaaskans wat ons dus ten volle moet benut om te rus en familietyd te koester.
Mag julle ná die naweek verkwik en verlig terugkom sodat “doodmoeg” dalk eerder na ʼn oordrywing mag klink en die lewensmoegheid plek kon maak vir die tevrede moegheid van ʼn besige kleuter wat lekker gespeel het – daardie moegheid wat my dogtertjie beskryf as “gaapmoeg”.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie