ons taal
ons taal

Ons taal

Afrikaans, ’n taal as erfenis van vele
Vandag vier ons by UNAM erfenisdag en Afrikaans geniet die eer om as die fokustaal van ons feesviering te dien met die tema “Kultuur is gemeenskap, gemeenskap is kultuur”. Anders as ander tale is Afrikaans as erfenis nie uitsluitlik Afrikanerkultuur gebonde nie, maar is dit deel van die erfenis van soveel verskillende gemeenskappe in ons land. Ons vier erfenisdag dus as ’n heerlike mengelmoes van kulturele uitdrukking, want soos my student Jason Kootjie in sy gedig skryf, wat hy vandag by die viering voordra: “Afrikaans is die taal van die mens / in die mens / vir die mens.”

Ek het ’n boek oopgemaak

– probeerslag van ’n studentedigter

Ek het ’n boek oopgemaak,

en ’n klomp woorde het uitgeval.

‘Flambojant’ steek vas.

Ek het ’n boek oopgemaak,

en die woorde val stemhebbend

en sonder skrome op vrugbare grond.

Ek het ’n boek oopgemaak, en my

geloof het verdiep in die lofgesang

van Krog se huwelik.

Ek het ’n boek oopgemaak, en my

Khoi-voorgeslag leer ken en vrede probeer

maak met die geweldtaal wat hulle geken het.

Ek haak eers hier vas en maak nie eers

die boek oop nie, want uit die verte skreeu

’n hartseer hotnot: “Nee, maak hom toe.”

“Dis die taal van die wit man.”

En in ’n oogwink verkleur die grens tussen

taal en mens en ek staan in

’n identiteitskrisis, want my Moedertaal is nie

meer myne nie omdat ek net-net die voorvereiste

kleurskema gemis het.

Maar ek maak weer die boek oop,

want diep verberg in die

Storie Van Afrikaans sien ek myself. Ek besef

dat dit nie die taal van wit of swart is nie;

eerder van die mens.

Ek maak weer die boek oop en die blye pynlike besef

slaat my soos ’n rowwe vuis in die gesig:

Ek is versot op hierdie taal.

’n Taal wat grense oorbrug en herstel,

’n taal wat my denoteer tot veelvoudige

eenheid, eenheid simboliseer op verskeurde

vlaktes. ’n Taal wat uniek myne is.

Vir die laaste keer maak ek my boek oop,

en daar staan geskrywe:

“Afrikaans is die taal van die mens

in die mens

vir die mens.”

Gedig deur Jason Kootjie, Afrikaanse Onderwysstudent aan die Universiteit van Namibië

Annika van der Linde

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!