No Image Caption

Ons taal

Kultuurdier se honger tydelik gestil
Diegene wat my ken, weet ek is nie noodwendig ’n groot sportaanhanger nie. Ek is ’n kultuurdier. Talle mense geniet dit terdeë om na rugbywedstryde of iets soortgelyk te kyk. Ek, daarenteen, put (onder meer) oneindige genot daaruit om my sitplek in ’n teater te kan inneem.

Windhoek is nou maar eenmaal nie Pretoria of Kaapstad om te kies en keur tussen teaters en konserte nie; dis juis waarom ons die kans met albei hande moet aangryp as die kans hom wel hier voordoen.

Hier word dans- en balletkonserte, kunsuitstallings, teaterstukke en musiekfeeste aangebied. Soms gebeur baie hiervan sommer binne die bestek van ’n week se tyd! So gebeur dit dan dat jy dieselfde kultuurdiere herhaaldelik sien – almal op soek daarna om die honger na kuns te stil. Die grootste bonus is boonop dat hierdie vermaak in Afrikaans op die planke gebring word.

Vandag is ek opreg dankbaar aan die organiseerders wat hierdie geleenthede vir ons op ’n skinkbord aanbied. Nog iemand wat ’n dankie verdien, is my kultuur-bondgenote wat nie skroom om ja te sê as ek nog ’n gebeurtenis voorstel nie.

Verlede naweek het ek ’n groepie vriendinne drie aande ná mekaar gesien juis omdat ons nie ’n kunsuitstalling-opening, ’n teaterstuk én ’n musiekfees kon misloop nie. Julle weet wie julle is – dank je wel!

Is my kultuurdier-honger nou gestil? Net tydelik, want ek smag altyd na daardie gevoel om in vervoering te kan raak tydens ’n teaterstuk. Teater het die vermoë om my vir ’n wyle van die wêreld daarbuite te laat vergeet. In my kalender is dus reeds die datums aangedui van die volgende kulturele aktiwiteite wat voorlê. . .

Elzeth Harmse

Afrikaansonderwyseres

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!