No Image Caption

Ons taal

Vra eerder “wie” as “wat”
Ek het vroeër vanjaar my universiteitskoshuis, Heide Dameskoshuis, se 55-jarige reünie in Potchefstroom bygewoon en verlede naweek was my 10 jaar skoolreünie by WAP.

Sinonieme vir die woord reünie is onder andere “hereniging” en “makietie”. Dis gepas, want daar word beslis makietie gehou wanneer mens ná al die jare weer herenig word. Dis verblydend om te hoor wat intussen van almal geword het, maar dis ook net so lekker om nostalgies te raak en weer al die goeie herinneringe te herleef. En natuurlik word daar ook nuwe herinneringe gemaak!

By die koshuisreünie het ons die Sondagoggend ’n diens gehad waar die dominee ’n baie treffende boodskap gelewer het. Sy het gesê tydens sulke byeenkomste is mens geneig om vir almal te vra: “Waar bly jy nou?”; “Watter beroep volg jy?”; “Is jy getroud?” ens. Maar mens vergeet om te vra: “Wie het jy geword?”; “Hoeveel van jou drome wat jy hier gedroom het, het waar geword?” Sy het ook gesê dat mens dan ook weer kans het om behoorlike selfrefleksie te doen oor wie jy geword het en dalk ontdek/onthou jy weer ’n vergete droom wat jy nou weer kan najaag.

By die skoolreünie is daar mooi huldeblyke gelewer en herinneringe gedeel oor een van ons skoolmaats en een onderwyser wat ons intussen verloor het. Dan besef mens weer opnuut wat saak maak in die lewe – nie noodwendig watter beroep jy volg nie, maar eerder wie jy is en of jy die meeste maak van hierdie tyd wat deur die Here vir jou geleen is.

Dit was vir my ’n voorreg om weer op my universiteit- en skoolspore te loop. Dis waar ek gedroom het, en voorberei is, om vandag ’n loopbaan te kan volg waar ek daagliks met Afrikaans werk. Dis ook by WAP waar my onderrigloopbaan begin het en dit sal altyd ’n voorreg wees om daar waar ek in die “wie” wat ek vandag is, gevorm is, ook ’n impak op jongmense se lewens te kon hê.

Hierdie sogenaamde herenigings is meer as net ’n makietie – dis ’n kykie in jou eie en die mense rondom jou se menswees. Dit laat jou opnuut dankbaar vir hierdie lewe en sy mense.



Nicolette Steyn

Afrikaansdosent

Universiteit van Namibië

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer