Ons taal
Verkies jy ’n maatjie of ’n taaltannie?
“Wil jy spelfoute uitwys of wil jy vriende hê?”
Só terg van my vriende my gereeld. Sommige sê sommer reguit vir my ek moet ophou om hulle te korrigeer, ander moedig my weer aan om taalwenke te deel.
Ek is weliswaar ’n voorstander daarvan om met jou talente te woeker. Taalvaardigheid – en om goed te kan spel – is (soms tot ander se ontsteltenis) van my talente. Ek is vir seker nie net daarmee gebore nie en moes dit ontwikkel en vaslê deur baie te lees en woorde opsoek in ’n woordeboek as ek op soek is na meer inligting daaroor.
’n Goeie woordeskat en spelvermoë beland nie net in jou skoot nie. Nes jy as kindjie moes leer loop of fietsry, moes jy ook leer lees en spel. En aanhou daarmee. Ek lees nog steeds. Ek doen nog steeds naslaanwerk. Ek bly leergierig en nuuskierig. Dis al hoe ’n talent nie tussen die stof van boeke en woordeboeke in te veel huishoudings beland nie.
My nuuskierige aard het gelukkig tot gevolg dat ek nooit verveeld is nie. Ek kan dit nooit verstaan as mense kla hulle is verveeld nie, want hoe? Ek het altyd boeke op my foon, in my motor, oral in my huis, of in my rugsak as ek op pad is iewers heen.
Natuurlik het ek myself al in vervelige situasies bevind, maar dit kon ek bekamp deur of te lees as ek in ’n ry moet wag, of sommer ’n geselsie aan te knoop met die vreemdelinge om my. Dalk verkies mense dit eerder om met my van aangesig tot aangesig te praat uit vrees dat ek oor teksboodskappe iets gaan sien wat my kwansuis teen die mure gaan uitdryf.
Al wat ek vir julle kan sê is, dis ’n groter wroeging waardeur ek gaan om my talent te versteek en foute oor te sien as wat dit vir julle is om net te waardeer dat daar elke dag iets is om te leer. Een van my goeie vriende sê altyd: “Probeer om elke jaar ’n nuwe vaardigheid aan te leer.”
Die vaardigheid wat ek vanjaar geleer het, was om liefs stil te bly en eerder net die boodskap uit ’n vriendin-oogpunt te lees eerder as om dit met my juffrou-rooipen te wil nasien. Elkeen van ons se ervaring en talente kan ’n onverwagse verskil maak – wees net ontvanklik daarvoor om by mekaar kers op te steek, nè.
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyseres
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie