Ons taal
Steeds net ’n galmende stuk metaal
Wat onderskei ons as mens? En hoe onderskei ons tussen mense?
Die vermoë om te praat en taal te gebruik is een van die kenmerke wat die mens van die diereryk onderskei. Maar is die vermoë om taal te gebruik steeds iets wat ons menslikheid in die era van kunsmatige intelligensie onderskei?
Die mensdom is al sedert die vroegste tye bewus van die unieke aard van vingerafdrukke en vandag is biometriese inligting ons gebruiklike vorm van identifikasie. Die eerste suksesvolle forensiese gebruik van vingerafdrukke was egter eers in 1892 in Argentinië.
Net soos ons vingerafdrukke kan ons taalgebruik ook ’n vingerwyser na ons identiteit wees. Daarom bestaan daar sedert 1968 ook ’n studieveld soos forensiese taalkunde waarin linguistiese metodes gebruik word vir regsdoeleindes soos outeursidentifikasie. ’n Mens hoef jou egter nie in hierdie studieveld te verdiep om in die styl en taalgebruik van studente hulle taalkundige vingerafdruk te leer ken nie.
Dit is veral dié onderliggende tekens van ’n unieke siel in tekste wat ek die afgelope twee jaar mis. Sedert ChatGPT sy opwagting gemaak het, het bykans al die werkstukke hul persoonlikheid verloor en die kil, kosmetiese tekstuur van ’n handskoen verkry. Nie dat hierdie handskoen se afdruk identiteitloos is nie. Nee, in die getroue nabootsing van kunsmatige intelligensie is ook die mens se vingerafdruk kunsmatig nagemaak. Dus is hierdie algoritmies gefabriseerde afdruk steeds ’n vingerwyser na die oneerlikheid waarmee studente poog om dosente ’n rat voor die oë te draai.
Buiten die perfekte spelling en goeie grammatika, is die soetsappige en oordrewe styl, asook herhaaldelike gebruik van woorde soos “diepgaande” die krulle en draaitjies van ChatGPT se vingerafdruk. En net so hol soos wat ’n leë handskoen is, so leeg is die woorde wat ChatGPT berekend saamflans. Al lyk en klink die teks so bedrewe en slim kan ’n masjien nie die vlees en bloed in die teks sit wat nodig is om dit ’n ware teks te maak nie.
Al praat die masjien skynbaar die taal van mense en engele, bly dit ’n klinkende simbaal en galmende stuk metaal.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie