No Image Caption

Ons taal

Hoe gemaak as jou wensdroom bewaarheid is?
Te dikwels hoor ons iemand sê: “Ek wens. . .” of “Ek droom. . .” Dis woorde wat deesdae so doodluiters geuiter word dat ons ons eintlik nie meer daaraan steur nie en daarom ook nie verder uitvra oor die lugkastele wat so lukraak gebou word nie.

Die HAT6 definieer “wens” op twee wyses: “verlange/begeerte om iets te hê/doen of dat iets moet gebeur” (selfstandige naamwoord) en “wil hê dat iets moet waar wees of gebeur, al weet jy dat dit eintlik onmoontlik/onwaarskynlik is” (werkwoord).

Die woord “droom” (as s.nw.) word beskryf as “voorstelling wat op ’n wens en verbeelding berus.” Vanuit hierdie beskrywing maak dit sin dat verwante woorde aan “droom” onder meer die volgende is: ambisie, doelwit en verbeelding, maar my gunstelingwoord op die lys is wensdroom.

Wensdroom is een van die treffendste samestellings wat ek al teëgekom het en is ’n raak beskrywing van my tipe droom wat onlangs bewaarheid is.

Ek het jare lank daarvan gewensdroom om aan ’n spesifieke Afrikaanse vasvra-speletjiesprogram te kon gaan deelneem en uiteindelik het ek die geleentheid gehad.

Hoewel dit nog steeds voel asof ek my in hierdie droomland bevind, het ek besef wensdrome het ’n eindpunt ook. So hoe dan nou gemaak as dit waarvoor jy so lank gewens het en waarvan jy so lank al droom, uiteindelik realiseer?

By die eindpunt gekom, is dit tyd om stil te staan en dankbaar te wees. Dankbaar teenoor elkeen wat my so onvoorwaardelik en onbaatsugtig ondersteun met hierdie wensdroom van my. Dankbaar teenoor diegene wat deel gevorm het in die wensdroom-avontuur. Dankbaar dat elke nuwe dag ’n kans bied om op te staan en nog wensdrome na te jaag.



Elzeth Harmse

Afrikaansonderwyseres

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!