No Image Caption

ONS TAAL

Het julle al gehoor dat mense sê dat die land kantel? Dis vir my so ’n mooi woordbeeld wat lekker kort en kragtig verduidelik wat telkens ongeveer hierdie tyd van die jaar gebeur. As Namibië soos ’n landkaart uitgebeeld kon word, sou die papier om-en-by nou ombuig na die noorde en die weste. As die uitbeelding soos ’n bordspeletjie was, sou die bord na die noorde en weste afvou, en die minuutglasie sou soos die eertydse uurwerk kantel. Dit is goed so, sodat ons die kant wat die volstoom jaar se dinge tot die droesem toe laat leegloop het, weer (met ’n klein bietjie leeglê) kan laat vol stroom. Baie van ons land se mense gaan herlaai, gaan skep asem, gaan ontspan. Skielik verstaan ek die morfologie van ont-span soveel beter. Dit was ’n snaarstywe jaar, en daarom vlieg soveel van ons soos ’n pyl uit ’n boog na ons herlaaispasies. As ek ’n elektriese kar was, sou my herlaaistasie digby Swakop se Mole wees. Ja, want hier stap ek verby die amfiteater waar my hart tot rus gekom het toe ek 21 jaar gelede my man ontmoet het. En dit maak nie saak hoveel sterre teen ’n hotel se muur skitter nie, dit kan nooit kers vashou by die skitterende heerlikheid van die tuiskoms by my pa-hulle se huis nie. En net soos die liggies in my oë elke dag helderder brand, groei die verwagting in my hart vir die grootste tuiskoms wat wag vir elkeen van ons wat glo in die boodskap van die tydige tydelike eenster verblyfplekkie wat die weg wys na waar ons harte ewig sal rus by ons Pa se huis.





Petronella F Genis



Woordspoor op Kanaal 7: Vrydae om 13:20



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer