No Image Caption

Ons taal

Kwetsklets: hond
’n Hond is ’n hond is ’n hond.

Tog dink ek nie so nie. My hond is dood. Sy was ’n karakter, iemand met persoonlikheid en iemand oor wie ek treur soos oor ’n geliefde. Sy was vir my nie net ’n hond nie.

As iemand haar brak, steekbaard, keffer sou noem, sal ek nie dink die persoon het respek vir mens en dier nie.

Nog erger – as iemand sou beweer: Haar brak is vrek! Dis kru. Dit skok my! Die woorde takel die verhouding wat ek met die dier het, af. Dit kwets my. Dis na my mening ’n soort negatiewe en sinnelose geklets. Dit kommunikeer geen deernis of meegevoel nie. Nie net is dit ’n belediging vir my as mens nie, maar dit takel die verhouding tussen my en die hond af. Dit laat geen reg geskied aan hoe ek oor die hond voel nie.

Die sin – “Haar brak is vrek” is beslis die waarheid. Dit kommunikeer wat gebeur het. Dit neem egter nie die eienaar of die hond respekvol in ag nie.

Die woorde wat ons gebruik is dikwels veel meer emosioneel gelaai as wat ons besef. Die woorde wat jy kies om iets te verwoord, sê veel meer van jou houding en persoonlike gevoel as wat jy besef. Woorde kan deeglik kwets. Dan is iemand se woorde ’n kwetsende geklets.

As iemand sou sê: “’n Hond bly maar die mens se beste vriend”, verwoord hy dit wat ek ten diepste ervaar.

Om sinvol te kommunikeer, moet ons baie fyn oplet na die woorde wat ons kies.



Dr. Nicoline Woest

Woordspoor K7

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer