No Image Caption

Ons taal

Uitsonderlike skrywer
My reis saam met Sophia Kapp het in 2020 begin gedurende my studies. As vrou, ma, suster en vriendin vind ek enorme aanklank by haar boeke. Sy beskryf die lief en leed in soveel detail dat ek nie anders kan as om my eie lewenservarings daarin raak te sien nie. Kantelpunt is ’n uitmuntende kunswerk wat my vasgevang het in haar wonderlike wêreld van Afrikaans. Die werklikheid en realiteit van hierdie roman is uiters indrukwekkend, en haar woordeskat en skryfwyse laat jou snak na asem. Kantelpunt raak alle emosionele, fisiese en geestelike worstelinge van ’n vrou aan, sowel as die vrou se plek in haar huwelik, beroep, kerk en familie.

Die Ooreenkoms en Die Tuiskoms is twee romans wat die passie tussen die karakters perfek vasvang. Elke leser kan met die hoofkarakters identifiseer juis omdat meeste van ons verhoudings, huwelike, kinders, geheime en bagasie van die verlede het. Kapp se eerste historiese roman Kanaän wat in 2020 gepubliseer is, is ’n merkwaardige storie oor ’n plaas en sy mense, en wié aan hiérdie grond behoort. Die storie fokus op die spanning en verhoudings tussen die karakters wat lei tot volkome vergifnis en onvoorwaardelike aanvaarding van mekaar. Kapp se jongste en tweede historiese roman Heimwee het twee storielyne, die hede en verlede wat oor geslagte strek. Die verhaal leer mens om nie dieselfde foute uit die verlede te herhaal nie, maar om eerder die waardevolle lesse daaruit te koester.

Mag hierdie uitsonderlike Afrikaanse skrywer se kunswerk ook diep in jul harte kruip!



Adéle van Niekerk

Deeltydse Dosent

Universiteit van Namibië



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer