No Image Caption

Ons taal

Paasfees
Dit is weer daardie tyd van die jaar!

Paaseiers, paashase en warm gekruisde paasbolletjies by dosyne! Winkelrakke kreun onder hierdie lekkernye en elke huisgesin smul aan kartonne vol malvalekker-paaseiers. Maar wat beteken Paasfees vir jou? Is dit daardie langverwagte wegbreeknaweek saam met jou geliefdes? Dalk jou jaarlikse kerkbesoek op Goeie Vrydag? Of die tradisie van geverfde en weggesteekte eiers op Paassondag?

Paasfees word beskou as ’n tyd van vernuwing vir baie gelowiges. Dit is ’n vrolike en vreugdevolle fees waar families en vriende wêreldwyd Jesus se opstanding en oorwinning van die dood vier.

Oor die eeue heen word Paasfees gevier deur die gebruik van verskillende nie-Christelike elemente. Gelowiges smul aan hierdie lekkernye onbewus van die betekenis daarvan. Weet jy wat simboliseer die wit kruis op die warm gekruide paasbolletjie, en daardie smullekker paaseier? Weet net soos jy die eerste hap vat van die warm gekruisde paasbolletjie dat Jesus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Die oopbreek van die paaseier simboliseer die opstanding van Jesus wat ’n nuwe lewe vol vreugde aan jou beloof.

Laastens simboliseer die paashaas die lewe en die verkondiging van die evangelie. Onwetend vier jy die vreugdefees deur te smul aan hierdie genotvolle, heilige versnaperings.

Paasfees verteenwoordig lig en liefde, daarom kan jy jubel en juig in die samesyn van jou geliefdes. Na nét een keer om die son, loop die winkelrakke weer oor met bolletjies, hase en eiers!



Adéle van Niekerk

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer