Onthou-oomblikke
Theresa van Zyl – Die vorige keer het ons begin met ’n innerlike reis na waar alles begin het . . .
Ek het jou gevra om te dink oor die vraag waar alles begin het ook met jou, in jou lewe. Ons is nou byna ’n maand verder in tyd. Kon jy uitkom by die kern van waar jou lewensverhaal begin het in die sin van die geboorte van jou passie, jou drome wat uiteindelik vir ons ’n verligte voetpad een liggie op ’n slag laat ontvou. Dié voetpad waarop ons stap om uit te kom by die kismet van ons lewe.
Ek nooi jou om verder saam te kom stap deur een van die liggie-oomblikke in my lewe, wat kom vassit het in my wese. . . legkaartstukkies wat ek nou begin optel om die prentjie te laat vorm aanneem van waar die skrywer-ek begin het. . .
Dalk het dit alles begin toe my ma my as klein, voorskoolse dogtertjie op ’n volmaanaand buitentoe gevat het: Met my aan die hand het sy deur die tuin gestap en voor haar bont malvabosse gaan staan.
Sy het na hulle afgebuk en ek het dieselfde gedoen. Haar stem was net ’n fluistering, daardie storie-stem van haar wat my elke aand vergesel het droomland toe. Daar was ’n sagte glimlag om haar lippe.
Dis asof ek dit vandag steeds kan hoor, sien en beleef: “Triesie, as jy mooi kyk, sal jy sien hoe die feëtjies op aande soos vanaand met die maanligstrale langs afgly, totdat hulle op die malvablare land en dan afspring tot op die grond. Onder die blaardakkies hou hulle maanligpartytjie saam met die feëkoningin. . . Konsentreer, kyk mooi en staan baie stil. Sien jy hoe die maanlig op hulle vlerkies skitter?”
Daar, daardie aand saam met my ma in die maanlig-deurdrenkte tuin, kon ek die feëtjies sien afgly op die silwer linte van maanligstrale. Ek het gesien hoe hulle saam met die vuurvliegies dans, getooi met blink, ragfyn vlerkies en skoenlapper-bont rokkies onder die wiegende dakkies van die malvablare.
En soms dink ek dat ek dit steeds kan sien. . .
En dan word ons groot, ons raak so maklik verstrik in die moete van die lewe, die gejaag teen tyd, dat ons die ragfyn raamwerk van prag wat geweef is deur elke oomblik, so maklik miskyk.
Wanneer laas het jy tydens sonsondergang net dit waarmee jy besig is, gelos en buite gaan staan of iewers heen gery? Jou aandag ten volle by die kleure skouspel teen die hemelkoepel. By die see spoel die goud oor die horison en verlig die branders met ’n eteriese lig.
In die stad word die vensters van geboue goud geverf en die gewoonste huis verander in ’n paleis waar lig die vensters optooi – elke skemering met ’n ander kleur.
In die veld stuif die laaste lig van die dag deur blare en bome, hou vas aan grashalms en mica-klippe. En daarna – na die koper, goud, pienke en perse verdof, strooi die liggrys skemerte soos ’n sagte mantel van vrede oor die veld, die see, die stad.
In die stad begin die liggies dan die een na die ander aangaan en as jy iewers ver bo die stad se gewoel is, word die vroegaand omskep in ’n wonderwêreld van kleur en lig, geteken deur die immerbewegende ligte van karre en verkeersligte wat speel tussen hul palet van rooi en groen en oranje.
En daar, stil met sonsondergang, op ’n volmaanaand of ’n vroegoggend, dáár raak jy weer bewus van die grootsheid van alles, van die wonder van ’n kind wat steeds binne jou siel asemhaal.
Daar kry jou siel weer kans om jou liggaam in te haal en kan jy onthou-oomblikke skep en saamvat vir ’n leeftyd. . .
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie