Ontvlugting deur ‘realiteit’
Daar is ’n sekere vermaakvorm wat universeel geliefd is; eenvoudig in konsep, en soveel pret om te kyk.
Tog sal die meeste mense nie erken dat hulle daarna kyk nie. Ek sal dit erken: Ek geniet dit om morsige realiteitsprogramme te kyk. In Engels noem hulle dit “trashy reality TV”. Hoekom? Want daardie “morsige” programme is ’n skuldige plesier; iets wat ek soos ’n dubbel-kaasburger met skyfies en ’n sjokolade-melkskommel kan verorber.
Hulle noem dit seker “binge-watching” vir ’n rede. Te veel van ’n goeie ding is nie goed nie, al is dit hoe lekker! Soms is dit weer soos ’n nare ongeluk langs die pad – grusaam, maar jy kan nie jou oë daarvan wegskeur nie.
Of dit nou is om al die Kardashian-drama te volg (ek kyk nié daardie program nie), om te kyk hoe iemand se nare puisies uitgedruk en groeisels afgesny word in Doctor Pimple Popper, hoe Judge Judy iemand met haar skerp tong uittrap, of om te kyk wie volgende huis toe gestuur gaan word op die vele programme van die Bachelor-franchise wat deesdae op TV te sien is. Baie mense het deesdae ’n voorkeurprogram wat hulle nie kan help om te kyk nie, selfs al is die konsep hoé verregaande.
Ek self het ’n swak plek vir TLC-programme soos My 600-lb Life en 1000-lb Sisters. Om te kyk hoe iemand se organe stadig deur ’n laag vet versmoor word, behoort nie fassinerende kykstof te wees nie. Tog is dit moeilik om weg te kyk. Ek kan nie ’n spesifieke persoon of publikasie aanhaal nie, maar ek het al iewers gelees dat ons as kykers dikwels nie die mense in realiteitsprogramme as “werklike” mense beskou nie, maar eerder steeds as karakters. Is dit ironies?
Ek dink ook programme soos dit laat sommige mense beter voel oor hulself. As jy kyk hoe iemand wat byna 300 kilogram weeg uitasem is ná hulle van die voordeur na die kar moes loop, voel jy effens beter oor jou dubbelken en selluliet en besef jy dit kon baie erger gewees het.
Mense is om baie ander redes ook lief vir realiteitstelevisie — soos om te sien hoe mense deelneem aan die stokperdjies waarvan hulle hou soos kosmaak en binnenshuise versiering.
Sommige hou van die meer heilsame, opbouende inhoud wat glimlagte op hul gesigte sit. Kyk byvoorbeeld na The Great British Bake-Off. Ek en my ma volg dit slaafs, en ons is beslis nie die enigstes nie. In 2016 het die program geskiedenis gemaak toe 15,9 miljoen kykers na die finale rondte van die sewende seisoen gekyk het – die grootste gehoor wat die Verenigde Koninkryk sedert die Olimpiese Spele in Londen in 2012 gesien het.
Dink ook aan Masterchef – eintlik die meeste kookprogramme – wat liefhebbers van die kulinêre kunste wêreldwyd verenig. Ek moet ook net noem, ek kan heeldag sit en kyk hoe Gordon Ramsay mense in sy Britse aksent uittrap en ’n paar (wat dit nodig het) terugbring aarde toe in Hell’s Kitchen en Kitchen Nightmares!
Dit is seker ook regverdig om aan te neem baie mense stroom na werklikheidsprogramme vir die belofte van chaos en drama wat dit inhou.
Daar is geen twyfel dat dié programme oor die jare meer kunsmatig geword het om drama te skep en moontlik die slegste in mense na vore te bring om hul kykersgetalle te verbeter nie.
Jaar na jaar wil produksiespanne vir kykers karakters bring wat aanhangergunstelinge word, of niks reg kan doen in hul oë nie. Dikwels is mense glad nie soos die karakters wat ons op die kassie sien nie, redigering speel ’n groot rol en baie gebeur voor én agter die kameras wat ons nie sien nie. Tog kom lojale kykers, soos dié van die Bachelor-of Survivor-franchise, keer op keer terug vir nog.
So van The Bachelor gepraat; maatsoek- en afspraakprogramme vorm ’n groot deel van dié genre.
Netflix het ’n groot hand hierin met programme soos Too Hot to Handle, Love is Blind en The Ultimatum. Dink ook aan ander programme soos Love Island, 90 Day Fiancé en selfs Boer Soek ’n Vrou.
Persoonlik voel ek in die meeste gevalle hoort ’n volwasse, gesonde verhouding nie op TV nie, maar dalk is dit net my opinie. Wat ek wel weet, is dat hierdie wanfunksionele verhoudings my dikwels verlig laat voel oor my enkelloperstatus!
Alles in ag geneem, dink ek dis veilig om te sê werklikheidsprogramme is meer as dikwels vir ons ’n vorm van ontvlugting, en ek dink nie daar is iets fout daarmee nie. Solank ons die “morsige” inhoud nie te ernstig opneem nie, en nie té diep deur die swart gat van die “realiteit” ingesuig word nie. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie