Ronelle SMN (2)
Ronelle SMN (2)

Oorloë se skote klap deesdae nie meer op die slagveld

Ronelle Rademeyer
Twee jaar gelede dié tyd was die nuwe coronavirus en oorvol waakeenhede in Wuhan en Italië waar duisende hygende pasiënte aan Covid-19 dood is, al waaroor die wêreld gepraat het.

Nou hou die Oekraïne en Vladimir Poetin se volgende skuif ons ore gespits vir verwikkelinge in Oos-Eruropa.

Asof die pandemie ons nie finansieel genoeg verrinneweer het nie, sal stygende inflasie, duurder kos en peperduur brandstof onafwendbare gevolge van hierdie konflik wees, waarsku ekonome.

Die bomskerwe en skrapnel van oorlogvoering is selde geografies beperk – dit spat die wêreld vol. Selfs al is dit die tipe hibriede oorlogvoering wat Poetin blykbaar besig is om tot ’n fyn kuns te vervolmaak.

In hibriede of basteroorlogvoering vervaag die grense van die slagveld en word militêre sowel as niemilitêre middele soos kuberaanvalle op ’n georkestreerde wyse ontplooi.

Dink maar terug aan Rusland se hibriede aktiwiteite tydens die inname van die Krim-skiereiland in 2014. Dit het gewissel van die ontplooiing van die sogenaamde “groen mans”, trolfabrieke, die finansiering van pro-Russiese partye en die werwing van eendersdenkende politici, tot kuberaanvalle en pogings om verkiesings te beïnvloed.

Die Sentrum vir Strategiese Studies in Den Haag, Nederland, sê in ’n artikel die ontwikkeling hiervan moet gesien word teen die agtergrond van Rusland se tanende militêre meerderwaardigheid, veranderende internasionale magsverhoudinge en tegnologiese vooruitgang.

Die skrywers van die artikel verwys ook na “hiperoorloë” en voorspel die slagvelde van die toekoms sal bestaan uit outonome oorlogstelsels, hipersoniese wapens en die toepassing van kunsmatige intelligensie wat besluitnemingsprosesse versnel. Die mens se rol hierin sal toenemend kleiner word.

Middeleeuse ridders wat met ’n dawerende geklap van hoewe op die vyand afstorm terwyl skild en swaard in die son glim, is lank vergete.

Militêr swakker staatsakteurs soek metodes om grootskaalse militêre konflik te vermy terwyl hulle steeds hul politieke doelwitte bereik, lees ek in dié artikel.

Dit is dus nie toevallig dat besprekings oor hibriede oorlogvoering sowat twintig jaar al gelede in China en Rusland plaasgevind het.

Hierdie lande het geen kans gestaan teen ’n militêr meerderwaardige Amerika en sy Navo-bondgenote nie.

Teeninsurgensie-operasies was immers die Westerse reaksie op aanvalle. Maar Westerse lande het nog nie goeie slaankrag ontwikkel teen hierdie nuwe bastermetode van oorlogvoering wat nou die hoofstroom benadering tot slagveldstrategie nie, sê die skrywers van die artikel.

Hulle wys ook daarop dat hierdie post-moderne metodes gedoem is tot “Pyyrhus-oorwinnings”, wat beteken die kollaterale koste is só hoog dat almal eintlik verloorders is.

Die uitdrukking “Pirriese oorwinning” is meer as tweeduisend jaar oud en verwys na koning Pyyrhus van Epirus en Macedonië (hy was ’n neef van Alexander die Grote) wat in 279 vC. die Slag van Ausculus teen die Romeine gewen het, maar soveel van sy manskappe verloor het dat sy oorwinning vir hom eintlik ’n enorme nederlaag was.

’n Mens hoef nie ’n militêre kenner of stragiese ontleder te wees om die som te maak oor wat ’n volskaalse oorlog tussen die Oekraïne en Rusland die wêreld gaan kos nie.

Mag gesonde verstand pleks van magshonger politici om hemelsnaam die oorhand kry. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!