Ouderdom maar. . . oud wees?!
René Hugo – Ek het eers nadat ek 70 geword het afgetree. En skielik was die wêreld vreemd vir my. . .
Vir jare lank was ek omring deur stimulerende mense, belangrike dinge wat gedoen moes word en entoesiastiese idees wat tot verwesenliking moes kom. Die lewe was op ’n drafstap en ek was só ’n lekker deel daarvan.
Maar, berge behoede my! Ná aftrede was daar niks. . . geen kollegas, geen gesprekke, geen rondhardloop om dinge te doen nie. Net ek, Manlief en ons huis. Die angs het my oorval – wat gaan ek met my stille doellose dae doen?!
Gelukkig is die mens ’n aanpasbare wese. En so het die aftrede ook naderhand lekker geword. Hoewel tog soms vreemd.
Van die vreemdste dinge wat ek moes beleef, is dat al my vriende en kennisse skielik boodskappe vir my stuur oor “die ouderdom”.
Een groep oorstroom my met stories van die verlede en beskryf breedvoerig hoe lekker dit was toe ons bus gery het skool toe, ná skool bok-bok gespeel het en toebroodjies gesmeer met “rooi gevaar” tydens skoolpouses geëet het.
Hoewel interessant om te lees, was daar nie een van hierdie herinneringe wat my in trane van hartseer laat uitbars het nie! Inteendeel, dit voel eintlik nou vir my baie lekkerder as wat die dae van my vroëtyd was.
’n Tweede groep beklemtoon weer hoe wonderlik dit is om oud te wees. En verduidelik ekstaties en met ’n omhaal van woorde dat ou mense spesiale grasie het, wonderlik slim is en diepe insig het in alle geheimenisse van die lewe.
Nou watse onsin is dit? As mens dom was as jong mens, sal jy dom wees as ou mens – die jare bring nie verandering in basiese intellek nie. Net so sal ’n grasielose jong mens nie skielik in die fynste, grasieuse ou mens verander nie. ’n Mens is wat jy is en soos jy jouself deur die jare geslyp het.
Jy sal nie ’n persoonlikheidsverandering ondergaan net omdat jy nou die tydperk van “70 of as jy baie sterk is 80 jaar” bereik het nie. Hierdie soort stellings is pure oëverblindery en grens in ’n mate aan arrogansie.
’n Derde groep vertel graag tong in die kies (en met ’n stillemaag-laggie) van die kenmerke van ouderdom.
So het hierdie boodskappe veduidelik dat ek nou in die lewensfase is waar ek:
– gedurig na alles soek omdat ek nie kan onthou waar ek dit neergesit het nie;
– herhaaldelik mense (en selfs Manlief !) se name vergeet;
– altyd laat is vir afsprake omdat ek óf my horlosie verlê het, óf vergeet het hoe laat die afspraak is, óf selfs vergeet het watter dag, maand of jaar dit is;
– mildelik gebruik maak van groot hoeveelhede medisyne om die oumenskwale hok te slaan;
– geen kennis of begrip van wêreldpolitiek het nie. En selfs niks weet van plaaslike politieke strominge nie.
Rêrig? Moet ek aanvaar dat ek, ná jare se individualiteit, nou skielik in die lewensfase is waarin ek oorstroom word met die tipiese kenmerke van die ouderdomsgroep waarin ek my bevind?
Maar gelukkig is die mens, soos ek reeds gesê het, ’n aanpasbare wese. Ek het geleer dat dit regtig lekker is om rustig te wees, om my dae in my huis sinvol (as onafgetrede huisbejaarde) deur te bring. En weer die heerlikheid van saamweestyd en -ervarings met dié man in my lewe te geniet.
En nou weet ek ook dat ek saam met Coenie de Villiers mag vra:
“En Heer is dit dieselfde son
wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds die reuk van reën
as jou geheue dalk sou kwyn?
Laat die sterre dus my kompas wees
en U steeds my Ware Noord.
Lei elke voetstap van my reis, o Heer,
want dit is soos dit hoort.”
(Uit: Gebed van 'n Reisiger)
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie