Oupa en ouma se boererate
SMN
Ek het onlangs besoek aan dok Google afgelê, want selfdiagnose is immers baie vinniger, makliker en goedkoper as om na ’n regte dokter of spesialis toe te gaan.
Let wel dat die woord “akkuraat” nie hier van toepassing is nie. Die internet kan jou maklik hier in die spreekwoordelike “rabbit hole” laat beland en kort voor lank het jy dalk jouself oortuig dat ’n effens verdagte moesie op jou linkerboud beteken dat jy melaatsheid onder lede het.
Ek het self onlangs in ’n soort hasegat beland toe ek ’n irriterende knoppierigheid op my kopvel ontdek het wat geweier het om te verdwyn.
My selfdiagnose het my tot die gevolgtrekking gelei dat dit ’n vratjie moet wees (jammer vir die jiggie-detail, maar dit is belangrik vir die konteks van die storie).
Diegene wat al vratjies gehad het, weet hulle is maar ’n pyn in die dinges. Gewoonlik is dit maklik genoeg om hulle te laat uitsny of brand, maar hierdie een was onder my hare, en daar is nie ’n manier dat ek van my hare gaan afskeer net om van ’n lastige eeltjie ontslae te raak nie.
Ek het wel onthou daar is ’n oulike boek propvol ou boererate wat iewers by my ouerhuis rondlê. Van die ou rate waarvan ek al gehoor het, was effens absurd, maar my redenasie was: dit sal nie seermaak om te probeer nie. Ek was egter nie voorbereid op van die goed wat my ma aangestuur het nie. Glo my as ek sê van die tips en truuks wat die boere toentertyd gebruik het, klink vreemder as fiksie.
Hier is maar ’n paar rate om van jou vratjies ontslae te raak (ek haal direk uit die boek aan):
Eerstens, vat ’n droë ertjie, breek dit oop, en smeer dit aan die vratjies, begrawe dan die ertjie in die tuin. Sodra dit groei, verdwyn die vratte.
’n Ander opsie is die volgende: Tel hulle en maak net soveel knope in swart gare. Gooi dit oor jou regterskouer op ’n ruie plek. Die vratjies verdwyn oornag.
My gunsteling een is egter dié goue stukkie wysheid: Jy moet ’n ou vetterige beentjie in die veld of op die werf optel en die vratjies bietjie seer maak sodat hulle bloei, dan die bloed aan die beentjie smeer en die beentjie weggooi sonder om te kyk waar hy val, en dan sal die vratjies verdwyn.
Waar en hoe op aarde kom mense aan dié goed, en het enige iemand dit ooit op die proef gestel? Dit is absoluut fassinerend, en sommige van dié idees klink vir my na paganistiese rituele, eerder as onskuldige, heilsame boererate.
As jy sukkel met karkatjies, trek die stert van ’n swart kat sewe maal deur die oog, maar dit moet gedoen word net nadat die kat hom klaar gewas het, en die karkatjie sal verdwyn.
As jou neus bloei, vat gebreide dassievel, brand die hare en snuif dit.
As ’n mens tandpyn het en jy wil nie die tand uittrek nie, kan jy van die hand aan die kant wat jou tand seer is drie naels afsny en van die gesonde hand se kant vyf afsny. Gee dit vir iemand wat nie weet watter tand seer is nie laat hy dit in ’n papier toedraai en onder die water in modder begrawe, en jou tand word gesond.
Vir inflammasie, neem ’n kat, trek die vel haastig af, ja, nadat die kat gou doodgemaak is. ’n Mens trek die vel af soos dié van ’n hasie. Sit nou die vel se vleiskant op die plek waar die inflammasie is. Die vel sal baie gou sleg ruik en haaraf gaan. Herhaal ’n paar keer. (Ek weet nie of dit beteken jy moet ’n paar katte doodmaak, en of jy dieselfde dooie kat se vel herhaaldelik kan gebruik nie).
Nodeloos om te sê, neem dié rate maar met ’n knippie sout. En as jy lekker wil lag, kyk of jy die boek Oupa en Ouma se Boererate (1962) iewers kan opspoor.
Die beste van als? Dit was nie eens ’n vratjie op my kopvel nie. . .
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie