Oupa Gollie gaan jou kom vang
Kyk, ek is heeltemal ten gunste van die “werk slimmer, nie harder nie”-beginsel, maar toe ek onlangs van Oupa Gollie onthou, kon ek nie anders as om te wonder wat ons besiel het nie.
Wie het ’n jong kind in die oë gekyk en gedink hulle gaan daardie kind so bangpraat dat hy/sy vir jare lank met ’n eenvoudige sin tot trane gedryf kan word? Wie ook al dit is, ek wil net praat.
Dit is baie maklik om nou te lag en te sê kinders het eenvoudig nie die lewenservaring om van beter te weet nie, maar selfs as kind sou ek sommer gou uitvra oor hierdie Oupa Gollie-karakter.
Jy sê hy woon onder my bed? Wat maak hy wanneer ek by die skool is? Is dit waar my verlore Barbie heen is? Nou wil ek die klong gaan vang dat hy antwoorde kan verskaf oor my verlore speelgoed. En so gepraat daarvan – waar is my inkleurpotlode? Het die vent dít ook gegaps?
Nietemin is Oupa Gollie baie ouers se gunstelingtoertjie. . . en tot my grootste irritasie, tienerseuns s’n ook. As tiener het ek ’n klein meisie met die mooiste blou oë en sagte blonde haartjies geken en hierdie arme pop was doodbang vir Oupa Gollie. Ongelukkig vir haar het ek ook my tienerboetie en sy vriende geken.
Eendag kry een van die seuns die blink idee om die meisie nader te roep en vir haar te sê dat Oupa Gollie haar gaan kom vang.
Die meisie bars toe natuurlik in trane uit en in ’n poging om haar te troos probeer ek toe omgekeerde sielkunde.
“Nee, Oupa Gollie gaan jou nie kom vang nie,” sê ek toe vir haar. Die groot blou oë het my stip aangekyk, en toe sy ’n groot sug gee, kon ek nie anders as om verligting te voel nie. Sy vee toe met haar hand oor haar oë en ’n oomblik later sê sy: “Nee, maar hý het gesê. . .”
Die trane loop weer vrylik en niemand kan die klein mensie se woorde tussen die snikke uitmaak nie. Nou wil ek net weet – wat maak hóm so belangrik? Sy ken hom skaars ’n uur lank, maar sy sal hom eerder vertrou as vir my. Hoekom is my woorde skielik nie meer geloofwaardig nie?
Watter deel van die man wat onder jou bed bly, wat jy nog nie met ’n oog gesien het nie en jou glo sal ontvoer as jy stout is, klink vir jou geloofwaardig?
Nou wonder ek wanneer kinders ophou om in Oupa Gollie te glo. Is dit soos Kersvader waar jou ouers jou moet vertel dat hy nie regtig-egtig bestaan nie? Ek het al gehoor dat ouers opgehou het om op Oupa Gollie vir dissipline staat te maak nadat hulle kinders te bang was om snags te slaap – ek kan nie glo ons het nie daaraan gedink toe ons vir die kind gesê het die monster wat onder sy bed woon gaan hom ontvoer nie.
As jy alles in ag neem, dink ek nie Oupa Gollie was ons blinkste idee nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie