Jemima Beukes
Jemima Beukes

Pappie, my stomme pa, ons onthou jou

Gister was dit agt jaar gelede dat my pa oorlede is.

’n Pa wat ons onvoorwaardelik liefgehad het, wat my geleer het om te dans, om te lees, om gedigte op te sê, en my liefde vir literatuur en musiek aangewakker het. Ek het wakker geword met Bob Marley, Pink Floyd, hy het “Another Brick in the Wall” in my ingerumoer, Lennon se “Imagine” en Bob Marley se “Redemption Song” het hy vir sy oorlede ma gesing met sy pragtige tenoor. Vir baie mense in Rehoboth was my pa en “Redemption Song” onafskeidbaar.

My pa, ’n hoërskool-debatkampioen in die Wes-Kaap in sy beste dae, was ’n orator van formaat.

Sy vaardighede as seremoniemeester was ongeëwenaar, hy het die vermoë gehad om jou aan die lag te kry en om jou te laat huil en snik met snot en trane by begrafnisse.

Hy het baie kinders in Namibië met name geskenk. Hy was ’n stunner in sy dae, o, hy het sy lewe geleef en sy das gedraai, en die twee van ons sou ure spandeer om met verskillende knope te speel. Hy het my eerste skoene vasgemaak, my geleer om die tyd te lees met erns. Hy het geglo in regverdigheid en het nooit toegelaat dat ek hom “pappie” noem by die skool nie, Mnr. Beukes was dit. Diegene wat hom liefgehad het, het hom Dirkie of Timotheus genoem, hy het homself Timmy boy of Timo genoem. Daar is geen eweknie aan sy karakter in hierdie land nie, my pa was ’n regverdige man, ’n man van integriteit, met soveel wysheid, die krag om enigiemand soos ’n koning te laat voel.

Hy was lief vir die lewe, hy het gelewe om te lag. Hy was ’n man van volbors, hy het die heilige plant met pastore en Katolieke vaders in Rehoboth se woude gaan rook en filosofeer.

Hy het my beter geken as wat ek myself geken het, my talente, my onsekerheid, my malkop en het reeds toe ek 12 was vir ’n kollega gesê hy bid dat ek ’n man trou wat my sal help om kinders groot te maak, huis te hou, want ek het nie ’n enkele huisvrou-been in my lyf nie en skottelgoed was die grootste nagmerrie van my lewe. Ek wou net boeke lees en redeneer.

Soos in Antjie se gedig, is daar vir my soveel spesiale oomblikke met hom wat ek onthou. Soveel liefde wat hy uitgestraal het.

“Jy’t my geleer om te dans met grasie,

Soos ’n ballerina oor die dansbaan se basis.

Soos ’n wafferse Waltzing Matilda gesweef,

Elke ritme en pas perfek beleef.”

Ek onthou hoe ons oor "Die Swerfjare van Poppie Nongena" baklei het, wanneer jy dit neersit om die pot te roer, het ek dit gegryp en agter die huis gaan sit en ’n hoofstuk gelees. Na ’n ruk sou jy ewe ongeduldig roep en jou boek soek. So het dit die hele dag gegaan en saam het ons daai boek klaargelees.

Musiek het deur sy are gevloei, Shakespeare se verse het jy laat lewe, “Love is not love” – jou stem het dit geweef.

Vir jou was enige plek ’n verhoog, die kroegtafel, Rehoboth se stofstrate, en swierige troues of geleenthede. Jou talent was soos asemhaal, ongedwonge, natuurlik, en onopgesmuk.

Jou lag het altyd weergalm, ’n hemelse klank gehad. Vandag onthou ek jou, my pa, my vriend, jou nalatenskap lewend in elkeen wat jou ken.

T-Boy, Timmy, Dirkie - Polites, Timo, Pappie, jy was omtrent ’n iets. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Sakkie Prinsloo 3 Dae Gelede 11 March 2025

Pragtig.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer