Planmakers en hul planne. . .
René Hugo – Ons was onlangs op pad vanaf Ariamsvlei af, toe die hongerte ons naby Karasburg oorval. Summier parkeer ons op die ruim sypaadjie van die plaaslike SPAR om die nodige proviand te kry.
Met die uitklimslag staan ’n seunskind van so ongeveer tien jaar nader en sê: “Meneer kan ek jou kar-goed oppas?” My man bekyk die klein lyfie en sê-vra skepties: “Jong ek weet nie – as hier nou diewe kom, wat sal jy maak?”
Na ’n oomblik se aarseling kom die beliste antwoord: “Nee Meneer, dan sal ek ’n plan maak!”
Met die versekering dat ons voertuig veilig is, kon ons rustig die noodsaaklikste aankope maak en het ook daarna die getroue Planmaker vir sy toewyding vergoed. Maar hoe verder ons ry hoe meer sing dit in my kop: “Dan sal ek ’n plan maak. . .”
En toe skielik besef ek: dít is hoe Namibiērs is. Hulle is mense wat ’n plan kan maak.
Die geskiedenis is tot oorlopens toe vol van sulke mense.
So was daar August Stauch wat in Mei 1907 uit Duitsland in Luderitzbucht aangekom het. Hy het die ideaal gehad om, in die nuwe land, vinnig geld te maak en so beter vir sy familie te sorg. Maar toe word sy bestaande kennis en ervaring deur die nuwe werkgewer geïgnoreer. En beland hy op ’n treinstasie, Grasplatz, as die stasiemeester. Sy primêre werksopdrag was om treinspore, tussen kilometers 18 en 27, vry van sand te hou – in die middel van ’n sandwoestyn!
Ek kan my nie ’n onmoontliker opdrag indink nie. Maar Stauch was iemand wat ’n plan kon maak. Hy het nie alleen daarin geslaag om die treinspore op innoverende wyse sandvry te hou nie, maar het daadwerklik beplan om sy omgewing deur kennis te oorwin.
So leer hy aktief meer van die woestyn se klippe en kristalle. Soos dikwels gebeur lei kennis tot insig en kry Stauch se plan gestalte in die proklamering van ’n prospekteringsliksensie – nog voordat hy ’n jaar lank in Namibië was! En word Stasiemeester Stauch deel van die eerste ontdekking van diamante in Kolmanskuppe, by die Grasplatz-stasie. . .
Die Namibiese jeug is beslis ook planmakers. Op 20 Julie 1969 het die jong Japie van Zyl met ’n brandende begeerte in sy hart na die epiese gebeure van die maanlanding oor die radio geluister.
Toé het hy alreeds geweet dat sy lewenspad na NASA moet loop. Maar hoe? Japie het ’n plan gemaak wat wonderlik gerealiseer het in 33 jaar se verbintenis met die NASA Jet Propulsion Laboratory in Kalifornia, VSA. Uit Outjo het ’n spesiale planmaker gekom.
Natuurlik is alle planmakers nie altyd suksesvol nie. In 1895 het eerste luitenant Edmund Troost beplan om tussen Swakopmund en die binneland transport te ry. Die probleme van ’n ossewa deur die woestyn (min kos en water, asook onbegaanbare sandpaaie) sou hy oorkom deur die gebruik van ’n stoomaangedrewe trekker. Net buite Swakopmund het die trekker egter hardkoppig, wiel-in-die-sand bly staan. Geen wonder dat die meganiese os dan ook verdoop is na Martin Luther nie – “hier staan ek, ek kan nie anders nie”.
Ons geskiedenis is vol voorbeelde van buitengewone planmakers. Dink maar aan William Worthinton Jordan, dié planmaker vir die Dorslandtrekkers. Of wat van Axel Eriksson, ’n ontdekkingsreisiger wat sy lewe deurgebring het, immer-soekende na nuwe paaie. En dan is daar dr Albertina Amathila, wat as geliefde meme doctor planne moes bedink om Namibiërs in moeilike omstandighede, gesond te maak.
Deur hulle planne het hierdie denkers self gegroei – en so Namibië na groter hoogtes gevoer.
Namibië se mense weet kennis lei tot insig en uiteindelik tot innoverende planne. Antoine de Saint-Expury het beweer: “’n Doel sonder ’n plan is net ’n wens.”
Namibiërs verstaan dit. – Gasskrywer
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie