Planne vir veiliger paaie
Sê maar net 30 jaar gelede
Gert Kruger – Die afgelope naweek het al Windhoek se “spietkops” en ’n groot deel van die polisiemag in die stad se strate saamgetrek om molesmakers, padvarke, dronkryers en dies meer vas te vat.
Daarmee kan geen patriotiese Windhoeker fout vind nie. Dit was hoogtyd dat sommige mense so ’n bietjie in die bek geruk word.
Soos party Windhoekers darem in die strate tekere kan gaan, is werklik verskriklik. ’n Mens wonder elke dag hoe dit moontlik is dat daar nie meer ongelukke is nie en nie meer voetgangers doodgery word nie.
Vroeër jare was dit algemeen om met plattelandse besoekers se ry-vermoëns te spot. Gobabis-ryers wou dan kwansuis soos die Wilde Weste se manne ry. Dit sou vir ’n voetganger in daardie tyd veiliger wees om eerder in die straat as op die sypaadjie te stap indien hy ’n SX-voertuig sou gewaar.
Vandag dink ek is die bordjies aansienlik verhang. Dit sal vir ’n plattelandse besoeker veiliger wees om eerder sy voertuig buite Windhoek te parkeer as om die strate in te vaar en waarskynlik ’n duik in sy voertuig te kry of soos ’n senuweebol in sy sitplek opgetrek te sit.
Ek dink die verkeersmanne en polisie verdien ’n groot pluimpie vir hul vasberadenheid. Hou so aan!
Daar is egter so hier en daar nog sekere aspekte wat miskien hul aandag ’n bietjie meer verdien.
Ek noem net ’n paar:
⁕ Voetgangers wat in spitstyd verkeersligte verontagsaam en daardeur die verkeer ophoop.
⁕ Taxi’s wat in die middel van strate stilhou om passasiers op of af te laai.
⁕ Ryers wat rooi verkeersligte verontagsaam en op die nippertjie nog ’n kans wil vat.
⁕ Ryers wat geen aanduiding gee dat hulle van bane wil verwissel of wil draai nie.
⁕ Ryers wat ongepoets is deur van die sykante af voor ander ryers in te druk.
As die verkeersmanne aandag aan bogenoemde aspekte ook kan gee, glo ek dat Windhoek se strate veel veiliger sal wees – nie net vir die inwoners nie, maar ook vir besoekers.
Ek voel jammer vir die manne wat Saterdag by Wanderers se braai was en dalk later in die aand moes uitvind die “loopdop” was net daardie een te veel. My hart bloei vir julle.
Ek dink egter die lewe is veel meer werd as ’n paar ure se plesier.
Miskien moet ou Muis en Oom Daantjie daaraan dink om ’n nuwe diens by die Wanderers-klub in te stel: ’n alkoholtoets voordat die manne huiswaarts keer. Is die alkoholinhoud te hoog, word ’n bestuurder gereël om die betrokke persoon huis toe te neem. Alles teen ’n fooitjie, natuurlik.
Nie alleen sal dit die dood van die paaie hou nie, maar kan dit dalk ook veroorsaak dat Windhoek se egskeidingsyfer afplat. Wie wil nou ’n derde wiel aan die wa hê as daar saggies uitgeglip word na die een of ander skelmpie? – 17 Maart 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie