Plooie
Hester Steenkamp
Hester Steenkamp - Vanoggend, toe ek voor die spieël staan om my hare te kam, vang my eie oog die vrou in die spieël se oog, en die skrik ruk in my binneste. Ek laat sak toe die borsel in skok en afgryse en wonder, wie op aarde is die vreemde tannie in die spieël? Dit kan sowaar mos nie ek wees nie. Maar dit is. Dis ek.
Vir ’n lang ruk het ek haar net aangekyk, en toe gee ek ’n tree nader en ek kyk om te sien. Ek kyk alles en sien alles. En toe herken ek haar. Ek sien sy het haar ma se oë en haar pa se neus. En sy lyk bietjie soos haar ouma. Dieselfde ouma wie se name sy gekry het. En toe sien ek die plooie; hulle lê in gelid om haar oë en mond en voorkop. Die meeste daarvan weet ek waar sy dit gekry het. Dis van lag. En van huil. En van lag tot sy huil. Dis van kommer oor die droogte, van hartseer en verlies. Van kwaad word en weer goed word. Van beroering, ontsteltenis en irritasie. Van leef. Daar is ’n paar wat sy by haar kinders gekry het. En haar man. Maar die meeste is van lag. Lekker, uit die maag uit lag.
Ek sien daar is sonskade oral op haar gesig. Dit ken ek ook. Dis van vakansies by die see en agterop bakkies ry op plase en oor duine en deur die Namibwoestyn. Dit kom uit die dae van bruin lywe op bont handdoeke langs die see en swembaddens. Ure se speel in die son, kinderdienste op die strand en sandkastele bou. Visvang by Blare en Solitude en Saras se Gat. Van ver stap langs die see en in die veld. Dis van ure op en langs sportvelde vir deelname, ondersteuning en afrigting. Dis van veldskole en sotte- en CSV-kampe. Dis van ure se tuinwerk - beddings maak en uitplant en oorplant en nuut plant. Dis van plaaswerk en boklammers in die veld soek. Van reënmeters omry en springbokke jag.
Ek staan en bekyk daardie vrou wat soos haar ouma lyk en by wie sy haar name gekry het, en ek weet daar vloei geskiedenis in haar are. ’n Lang geskiedenis van dapper vroue wat kaalvoet oor bergreekse is, en wat gehelp het om talle waens deur talle driwwe te trek. Wat brood in die grond gebak het en hulle kindertjies met baie liefde maar min geriewe moes groot kry. Wat alleen moes boer en varke slag en begrafnisse hou. Vroue wat moes veg en uit niks uit opstaan. Wat oor en oor van voor af moes begin. Hulle wat hulle man moes staan toe dit nie betaamlik was vir ’n vrou om haar man te staan nie. Hulle wat ’n sinvolle en diensbare lewe gelei het. Huisvrouens en boervrouens en beroepsvrouens. Daar is veerkragtigheid, vreesloosheid en vasberadenheid in haar bloed. Dit weet ek vir seker, want haar name kom ’n ver pad aan. Tot so ver terug as 1829. Dalk selfs verder, sou ons verder gaan soek. Honderd nege-en-veertig jaar, en langer, van vroue met wilskrag.
En soos ek die vrou staan en bekyk, besef ek dit is oukei om plooie te hê. En dis oukei dat daar bewyse van sonskyn en saffier op haar gesig is. Dis nog meer oukei om ’n tannie te wees, want dis ’n voorreg wat nie almal beskore is nie. Sy het ’n doel in die lewe, net soos elkeen voor haar in wie se spore sy moet trap en wie se bloed deur haar are bruis. Sy moet daardie liefde en vreesloosheid en vasberadenheid wat deur geslagte opgebou is, vorentoe aangee, sodat dit in die DNS van haar dogters kan voortbestaan, sodat hulle dit weer kan aangee na hulle nageslag. En sy hoop - hier diep in haar - dat daar tog weer êrens vorentoe ’n naamgenoot sal wees, want dit bind jou aan hulle wat voor jou die weg gebaan het.
Dis toe dat ek vir die tannie in die spieël oogknip en sê: “Dis oukei. I got this.”
- Gasskrywer
mailto:[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie