Se maar net logo - Mandy
Se maar net logo - Mandy

Reënweer en pannekoek bak

Ai toggie, dit klink dan so lekker. So ry ek die Woensdagmiddag huis toe, en soos meeste vrouens wik en weeg ek wat ek vanaand vir my gesin op die tafel gaan sit. Eensklaps kry ek die gedagte om pannekoek te bak. Die weer is mos ideaal vir pannekoek; dis reënerig. Dus is dit net die regte ding vir die Rittmanns vanaand. Kyk, pannekoek bak was nog nooit een van my sterkpunte nie, maar ek het besluit om ná jare – nou praat ek van 20 jaar en langer – weer ’n kans te vat. Die laaste keer was glad nie ’n goeie ondervinding nie en ek het ’n sielkundige knou na daardie dag. My mensies moes tevrede wees met dit wat mammie by die kerkbasaar of iewers gekoop het. My probeerslag was net ’n krummelrige affêre. Ek wil liefs nie vertel waar die beslag op die ou einde opgeëindig het nie. Vol bravade begin ek al my benodighede op die tafel uitpak. Mevrou gaan pannekoek bak. Die beslag is klaar en ek laat staan dit vir 30 minute volgens die instruksies. Die tyd vir die bakproses het aangebreek. Heel manhaftig haal ek my AMC-pannetjie uit, wat nou ook vir die eerste keer pannekoek gaan bak. Eerste een is in die pan. Vader behoede my, dit krummel. My moed sak tot diep binne-in my skoene. Tog nie weer nie. Ek is dan so positief en vol hoop dat ek dit hierdie keer gaan regkry. Ek pluk ’n bak uit die kas, skep vir krummels in, maak weer vir pannetjie skoon en probeer weer. Die tweede een kom toe mooi uit en die derde een ook. Heel opgewonde sê ek manlief en seun kan dit solank kom geniet. Nommer 4 haal weer nommer 1 se manewales uit; dit sit in die pan vas, krummel weer. Ek is sommer dadelik gefrustreerd en geïrriteerd met die hele besigheid. Ek belowe myself hierdie beslag gaan ook iewers anders as in die pan beland. Gelukkig het ek ’n geduldige man wat kom stelling in neem langs die tafel om vir vroulief moed in te praat. Ek maak nog ’n grap met hom en vra: “Dit lyk vir my jy sit en bid.” Ek probeer myself kalmeer. Ek neem ’n foto van die floppe in die bak en stuur dit vir my vriendin, Abby. Haar terugvoering was lagwekkend, “my aarde”. Ek gryp my selfoon, en lees wat die goeie baksters te sê het oor pannekoek bak. Ek volg die instruksies aandagtig – en weet jy wat – daar bak ek pannekoek sonder enige probleme. Vandag is dit regtig nie meer so moeilik vir ons vroutjies wat nie regtig goeie baksters en kokke is nie. Sosiale media maak dit vir ons maklik om ook lekker disse en gebak vir ons gesinne voor te berei. Ek het tog ambisie, ek weet ek sal dit nog regkry, en met die talle reënseisoene wat nog voorlê, sal ek nog vele pannekoeke vir my gesin bak. Abby, moenie bekommerd wees nie, jy gaan ook nog pannekoek eet. Ek wil vir die vroutjies daar buite wat soos ek nie ’n goeie bakster is nie, net moed in praat en sê daar is hoop. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!