Roer gelaai met spek
Sê maar net 30 jaar gelede
Gert Kruger
Lees gister in die koerant van die vallende vuurbal wat Dinsdag naby Waterberg opgemerk is.
My aanvanklike gedagte was dat dit nou weer die een of ander tannie was wat ’n streep meelblom oor haar gesig gekry het en in die haas om dit afgevee te kry voordat sy die predikant by die voordeur innooi, gesigte gesien het.
Met die verdere lees van die berig, kom ek egter agter dat dit nie net een tannie was wat die ding gesien het nie, maar wel ’n dosyn of meer mense.
Dit het my onwillekeurig laat terugdink aan ou Grootlieg van der Merwe destyds op Potchefstroom. Eintlik was hy Jacobus gedoop, maar ons het hom sommer ou Grootlieg genoem na aanleiding van al sy vreeslike vertellings oor dit en dat wat hy gesien of beleef het.
Op ’n keer, ek dink dit was ná ’n Desember-vakansie, kom ou Grootlieg weer die aand by ons ’n glasie klink. Soos dit maar met studente ná elke vakansie gaan, wou elkeen maar te graag vertel wat met hom gedurende die vakansie gebeur het. So het dit dan gekom dat ou Grootlieg ook van sy wedervaringe begin vertel het.
“Manne, julle sal my waaragtig nie glo nie. Maar ek sê nou vir julle, dit is die reine waarheid. So waar as padda manel dra. (Eintlik het hy al sy stories so begin. ’n Besliste teken dat hy iets ‘groots’ beleef het). Ek ry hier kort ná Kersfees van Nelspruit na Witrivier om vir ’n pel te gaan kuier.
“In die kar was twee vriendinne – die een afkomstig van Ierland en die ander een sommer ’n meisie uit die Nelspruit-kontrei. Man, ons gesels te lekker oor allerhande dinge en kort voor lank is ons by die bergpas op pad na Witrivier.
“Dit het die aand so liggies gereën en as jy daai wêreld ken, sal jy weet ’n man moet maar ligkens op die petrolpedaal wees. ’n Kar gly sommer maklik op die pas en dan is dit koebaai Meraai. My ou Vauxhalltjie het die pas maar tammerig gevat en toe ons uiteindelik bo kom, het dit vir my gevoel of ek so ’n effense rukkie in die kar se vertoning bespeur. Ek het my egter nie daaraan gesteur nie, en ons is die afdraand af. By die gelykte onder die berg loop die pad deur ’n driffie voordat dit ’n draai maak vir die pylvak Witrivier toe.
“Ewenwel, toe ons onder deur die driffie gaan, gee die Vauxhall so ’n paar steekse rukke en gaan staan botstil. Soos julle manne my ken, is ek ook nie die braafste kêrel wat daar in die donker rondloop nie. Ek het so ’n rukkie gesit en tob of ek my braafheid moet bewys en of ek maar aan die meisies moes erken dat ek maar ligvoet vir die donker is. “Die braafheid het op die einde geseëvier en ek is uit die motor om onder die enjinkap te gaan loer wat fout is. Terwyl ek in die kar se binnegoed vroetel, begin die Ierse meisie vreeslik gil. Ek skrik my boeglam en blykbaar die Vauxhall ook, want toe ek in die kar spring en die aansitter probeer, brom hy net een keer en daar gaan ons.
“Dis toe wat die Ierse meisie ons vertel van die vragmotor op sy sy en die bebloede mense wat tussen stukkende sakke sement in die driffie rondkruip. Sy is blykbaar met die helmet gebore en kan sulke goed sien. Agterná het ek vasgestel dat daar wel ’n paar jaar gelede ’n vragmotor met bouers in dié driffie omgeslaan het.
Waterberg se vertelling kan ek dalk nou glo, want dit kan mos ’n meteoriet ook wees. Ou Grootlieg se storie bly maar vir my egter effe vergesog. Of ’n mens nou met ’n helmet of helm of heel aangetrek gebore word, ek twyfel steeds of so iets moontlik is. Net soos ek twyfel dat daar vreemde vlieënde voorwerpe bestaan.
– 16 April 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie