Des Erasmus
Des Erasmus

Rondom ‘n kultuur-vuur

Ek sê maar net (20 jaar gelede)
Mandy Rittmann
Des Erasmus – Meester Bester het sy mond altyd so op ’n tuit getrek, sy stem so ’n effe verhef en van KULTUUR gepraat – boerekultuur, Karoo-kultuur, velskoenkultuur en vele meer.

Op mooi Afrikaans het hy altyd gesê die kulture het raakpunte, maar meng nooit nie. Iets soos ’n basterkultuur (met ’n kleinlettertjie “b”) bestaan nie. Ons seuns met die knopknieë, verdwynende melkpensies en wordende spiere, skaamte en knipoog vir die meisies het hom geglo.

Tot Sondagaand. Want Sondagaand kom loop ’n Bolandse (of is dit nou Wiepie-) kultuur en ’n Namibiese kultuur daar in die hoek van die erfie deurmekaar. En net daar by die “Namibiese kultuur” is die eerste deurmekaar spul, want kameeldoringhout en braaivleis dra ’n Suidwes-kultuur wat maar sukkel om oor te gaan in die veronderstelde sinoniem van ’n Namibiese kultuur.

Vuurmaaktyd is geselstyd. Vertel een van die kosbare wingerdstompies waarmee ’n kaggel gevoer is, terwyl Kaapse reënvlae teen die ruite kom huil het, kom ’n antwoord van droë mopanie se kole toe die droogte Kamanjab kom breek het.

“Hier reën ons vure nie dood nie.”

Nog ’n stukkie kameelhout brand middeldeur en die stompies val weerskante van die vuur.

“Net reg vir snoek, sê die Bolander,

“Amper soos ’n snoekbraai by Houtbaai.”

“Ja, of soos een van die vet snoeke wat Blackie oorkant Langstrand gaan haal het toe hy nog geleef het, kom die Namibiese stukkie by. Sulke langes, sulke blinkes.”

Dis ’n raakpunt met ’n verskil.

“Ons braai ook rump steak met ’n sousie,” sê die tweede Bolander.

“Ons koop ons vleis sommer om die hoek by die kettingwinkel. Dis mooi verpak.”

“Myne kom van Gobabis af,” kom die antwoord.

“Dis mos daar waar die vet beeste wei. En soos wat julle Bolanders van die wynroetes praat, so het ons ook ons stofpaaie wat na plase op ons eie vleisroete lei. En joune kan nie lyk soos myne nie.”

’n Bottel se nek knak.

“K(arel) W(ye) V(oete)” kom dit met Namibiese bewondering.

“Hierlangs drink ons maar. . . taxi. Die voorvoegsel tot taxi mag ons mos nie meer sê nie. Daai’s goud wanneer ons dit kry.

“Soos wat ons nie steak soos daai in ons geweste kry nie,” vou die Bolander.

“Maar julle het weer die wyn,” word effens geprys met die omdraaislag van nog ’n homp vleis. “En ons koop van ons groente in hierdie vriespakke wat nou daar in die mikrogolf dreun. Julle gaan pluk en trek mos sommer vars uit die tuin.”

“Maar ons poetoepap kan daar in die Kaapse weer maar los om by julle s’n te kom. Die meel is te klam en die potjie se hout brand te vinnig.”

“En die meel word op ’n te ver plek gemaal.”

Drie ouens bly stil, terwyl nog net die vlamme goeie geselskap gee.

Soos wat die Heer gekom het toe dit eers stil geword het. “Byna halfelf,” sê ’n Bolander.”

“En die vleis is net mooi reg,” sê die Suidwester.

Kulture kan tog meng. – 28 Oktober 1994

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!