Ryg laslappies vir ’n nuwe normaal
Dis daai tyd van die jaar.
Jy ry so hik-hik werk toe, skool toe, winkel toe. Soms is die hik erger as wat jy verwag het: as die hemelse water die slaggat in die pad oornag dieper uitgekerf het of nóg ‘n rits nuwe gate gegrawe het.
So vinnig as wat die munispailteit dit met bankrotsente probeer toestop, so vinnig verweer die natuur hul afskeepwerk.
Laslappiepaaie, dink ek die ander oggend terwyl ons ons weg versigtig na ons bestemming probeer uitpluis. Daar’s nie ‘n kompas vir laslappiepaaie nie; nie in Windhoek nie, ook nie in die lewe nie.
Dis nie die laslappiewerk wat my as kind knus gehou het nie. Ek onthou hoe ek vir ure kon staar na die verskillende lappies wat my ma noukeurig uitgesoek en in ‘n droomkombers aanmekaar gelas het. Nie net om my lyfie warm te hou nie, maar ook my hart.
Daar was lappies met kersies. Die dieprooi vruggies het my laat wonder oor vreemde wêrelde waar dit in oorvloed is en nie die peperduur verskonings op winkelrakke wat ons nie beskore was nie.
Lappies vol helder blomme. Hulle kom seker sommer vanself in tuine in ver plekke op waar waterbeperkings nie kleur aan bande lê nie, het ek gedink.
Lappies met vroue in vanmelewe se rokke. Toe ons nog aan prinse en ridders op wit perde geglo het. Van mening was als gaan oukei wees aan ons net hard werk en die regte ding doen.
As kind het ek geglo as jy iets las, hou jy dit bymekaar. Maak jy dit reg. Skep jy iets nuut, iets wat hóú.
Nou weet ek anders: Las is dikwels tydelik – of dit ‘n teerpad of ‘n die pad van die lewe is.
Las het ‘n las geword. Want dis net nóg ‘n krisis wat bestuur moet word, nóg ‘n seer hart wat ‘n pleister benodig, nóg ‘n moeë kop wat moedeloos na antwoorde soek.
Vir die post-2020-mens beteken las net één ding: Nóg ‘n gatslag!
Ons las verhoudings, geldsake. Ons las ons skrapse vry uur of twee om ‘n bietjie gesinstyd te bekom. Las die nóg skaarser vry minute vir ‘n aks se selfversorging sodat ons laslappiegees sterk bly staan as die volgende golf ons tref.
Ons las vir oorlewing.
Ons gaan ons laslappiekombers vir die nuwe normaal moet weggooi. Dit hou ons nie warm nie. Inteendeel, dit laat ons van vrees bibber.
Iewers in ons grootmense se harte is daar ‘n stoor. Die slot daarvan is geroes. Ons sal in ons siel na olie moet gaan soek sodat ons die deur kan oopsluit. Iewers daar binne is daar ‘n ou kis met al ons ma’s se oorskietlappies.
Op ‘n blink kombuisvloer moet ons dié lappies vir ons kinders uitpak. Ons moet saam met hulle weer die wonder van die lewe ontdek. Lappies sáám uitsoek en sáám ‘n nuwe bestaan aanmekaar ryg.
Een waar outydse waardes wat deur die eeue diep binne ons vasgestik is, weer kleur en drome in ons laat herleef. Een waar ‘n laslappiekombers nie ‘n stuk materiaal is nie, maar iets wat ons in liefde toevou en veilig laat voel.
Ons is dit aan onsself en ons kinders verskuldig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie