No Image Caption

Saartjie is met die lyf

Charlotte Beukes-Muundjua
Yandi Du Plessis
Hierdie is die vierde episode van Ousie-ma se mense:

Hoeee mense, dit gons in Basterland. Saartjie van Ousie-ma se geslag is tot barstens vol.

Nogal van Takhaar, die kamma-vriend van universiteit en die einste kitaarspeler by Ousie-ma se 70ste verjaardagpartyjie.

Kyk, dit word vroemôre teen die heining met bekers tee gestaan en hie-hie.

Dis nou onse minse. Wil stompies voor jou deur kom vee terwyl daar stront in hul eie jaart gesaai lê!

Ousie-ma moet ingaan winkels toe om ordentlike eetgoedjies te kry, want die swanger paartjie kom die naweek. Sy sweet van gemengde gevoelens. “Hoe kyk ek vir Saartjie in die oë, hoe sal die klong se familie optree?”

Sy het reeds verneem dat Takhaar (Blessing) se oom en tante van in sy ouers se plek gaan kom om verskoning vra. Die tante is glo ’n grootkop by Windhoek se hotelskool, so sy weet darem nie so mooi wat om voor te sit nie. Gelukkig kom suster Magriet van Keetmanshoop af vir bystand. Kerneels moet net daar bly, ons soek tog geen skandes nie. In ieder geval is hy met een voet op ’n piesangskil en die ander in die graf.

En, nog erger die oom is nog ’n groter kop as ’n gesondheidsinspekteur. Ousie-ma dank die Vader dat kakkerlakke glad nie in haar armoedige blyplek bestaan nie. Jy kan letterlik van haar vloer af eet, so netjies is die ou vrou.

En soos die duiwel mos ’n drek-ding is, kry Ousie-ma vir madam Aletta in Shoprite. Hoogmoedige meid wat met haar hele lyf in die botter geval het (van die Van Wykse).

“Middag, Ousie-ma. Eto, is dit waar dat jou kleinkind met die lyf is? En dit nogal van ’n donker man.”

Dis nou net daar dat Ousie-ma blaas soos ’n pofadder. Gelukkig is die Mama’s-pilchards klaar in die sak gepak, anders is Aletta dalk gegooi.

“Hey, waarvoor is jy opgeskeep met my werf, het jy nie jou eie nie? Ja, Saartjie is swanger van haar Zimbabwean kêrel. Dit maak nie van haar ’n los vrou nie, hulle kom al ’n hele entjie aan.

“En wat van jou Katriena wat Catherine geword het? Die spogperdjie word gery sonder saal en toom, elke naweek ’n ander ruiter. Ja, hierdie dorp se stofstrate het oë en ore!”

Aletta se mond hand oop. Die skandes het dan nou plotselings na haar kant toe gedraai.

“So jammer, Ousie-ma.” Haar bek word net daar gesnoer.

“Aletta, bly uit my pad, wat soek jy in eerste plek in onse Shoprite? Jy behoort in Spar. Weet jy as predikantsvrou dat oordeel jou nie toekom nie? Jou koring is nog groen, moenie vinger wys nie. Satan loop hanne-viervoet daarbuite!”

Shoprite se baas moes maar intree en antie Aletta het soos blits verdwyn, seker van skok oor haar Catherinetjie.

Almal lag onderlangs. Die dorp het meer mense soos Ousie-ma nodig. Shoprite het lanklaas lekker drama gehad – ’n knap oorlog! Ai, en die waarheid is geniepsig!

Ousie-ma vee die sweet met haar sakdoek af. Dit is nou welgedaan. Sy het nou vrede. Vrede met die veroordelendes, vrede met die hooghartiges, vrede met die goewerment se min pensioen. Bowenal het sy vrede met Saartjie wat op haar laaste jaar van studies met die lyf is.

Skielik swaai haar somber gemoed na sonskyn. Sy begin dink aan al die wol en breipenne wat in ’n trommel lê. Nou gaan sy brei vir haar eie gemengde bondeltjie. Sy sien al uit om ’n roomysbak met allerlei Hollandse medisyne vol te maak.

Sy sien uit na die uitsmeer van klein Blessing (sy dink skielik aan die naam Precious as dit ’n meidjie is).

Sy sien sommer uit na die naweek se byeenkoms, sal klaar reël vir smeer-ouma Sara om Saartjie reg te druk.

Ja, Ousie-ma sê in stilligheid dankie vir Saartjie en Takhaar wat die vaalgeit in die familie kom breek het.

Ja, sy sien uit na ’n karamel/tjoklit-kleintjie met ’n lekker krulkop en wolwange. Sterk hande en warm oë.

“Here, wees my kinders genadig, knoop die tonge van hierdie gemeenskap. Wees met Saartjie, want net U alleen gee nuwe lewe. Net U alleen kan haar deurdra deur die mooiste tyd van vrouwees.”

Ousie-ma se blou Bedford ry op ’n liefdeslied terug plaas toe.

Die stofwolk agter sê: “Los my mense uit!”

- Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!