Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Saluut aan van die grootstes in joernalistiek

Elvira Hattingh
Ons groet onlangs twee grotes (nee, reuse in joernalistiek) by Republikein.

Beide Dani Booysen en Ronelle Rademeyer gee leisels oor, name wat oor baie jare heen sinoniem geraak het met media in Namibië. Hulle staan onder die grootstes, die wat 'n onuitwisbare indruk in ons land se geskiedenis gemaak het.

Dis 'n hartseer dag vir my: So stil-stil groet hulle, sonder enige bohaai. 'n Kort koebaai in die koerant, dis al.

As jy my vra is hulle helde: Dit is mense wat ek as my mentors beskou het, by wie ek nog elke dag geleer het en na opgekyk het. Soos so veel ander jonger joernaliste saam met my gedoen het.

Ek suck met koebaais, want ek huil voor die tweede sin. Maar kom ons probeer.

Ronelle 'n ystervrou wat vasvat en voorvat sonder skroom – sy skryf vreesloos aan die grootste stories in ondersoekende joernalistiek van ons tyd. Keer op keer wys sy haar staal: 'n Formidabele joernalis en vrou.

Ons jonges kan ons ou skoene agterna gooi om die tipe vernuf te kan toon.

Daarbenewens het Ronelle 'n mooi moederhart wat met groot deernis en liefde lei. Ek persoonlik is só dankbaar vir die pad wat ek saam met haar kon stap, in besonder sáám in landboujoernalistiek.

Wat ek van haar menswees geleer het, weeg soveel swaarder. Daar kan standbeelde gebou word vir haar oor haar moed en dapperheid in die laaste tyd. Dankie, liewe Ronelle, jy’s na aan my hart.

Ook Dani wat die gemoedere kan kalmeer, wat altyd die regte antwoord het. Sy kennis van politiek onoortrefbaar. Hy het altyd perspektief en helderheid oor 'n saak, hy is altyd koelkop. As jy nie weet nie, vra maar net vir Dani.

Wie sal Dapper Daantjie se uitstekende Sê Maar Nette ooit kan vergeet?

Ek wil sover gaan as om te sê hierdie mense is nasionale skatte en ‘n laaste eerbetoon is gepas, noudat hulle nuwe fases in hul lewens aanpak.

Saluut. Respek! En dankie vir julle. Dankie namens die hele Namibië, as ek mag!

Ek weet, dit is die lewe en daar is 'n tyd vir alles. 'n Tyd om te kom en 'n tyd om te gaan, sê die Groot Boek. Mooi stories het ook eindes. Mooies, soos hierdie. Mag ons dankbaar wees.

Dit is groot skoene hierdie vir 'n jonger geslag joernaliste om te moet vol staan.

Gelukkig is hulle steeds net 'n oproep ver. Dis te sê as hulle nog met ons wil praat. (Hemel Elvira, wat ons jou nou nog nie kon leer nie, sal jy nooit geleer kan word nie!)

Oukei, flou grappie. Ek hét genoem dat koebaais nie my ding is nie.

Inderdaad, ons is almal maar seisoene, vandag die lente en môre láát herfs. Dis onafwendbaar dat die aflosstok oorgegee moet word. Bykans soos die lente nou klaarblyklik oorgee aan die somerseisoen, vakansieseisoen.

Elkeen van ons wat 'n beurt kry, moet voluit hardloop en die aflosstok op 'n nog beter plek probeer oorgee. Elkeen beur treë vorentoe vir die span, vir gemeenskappe en vir die groter Namibië.

Eindelik pluk elkeen van ons die vrugte van die sade wat ons gesaai het, nou of later. Mag ons sade saai soos wat hierdie twee mense gesaai het – nou ‘n blomtuin vol. Anders sal jy naderhand in die dorings en ditsels trap wat jy self geplant het.

Mag die vrugte van al jul harde werk soet wees. Mag julle al die vasvat, voorvat en selfs swaarkry oor en oor beloon word. Mag ons ander voortbou op jul mooi nalatenskap.

Ek glo dis net ‘n tot siens – want ek weet ook, joernalistiek los jou nooit werklik nie. En nogmaals dankie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!