No Image Caption

Sentiment se duur les

SMN 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Carina Cocklin – Sentimentaliteit kan soms ’n pyn wees. En soms kan ’n mens vir jouself ook ’n bron van frustrasie wees – veral as jy soos ek onherroeplik sentimenteel is. Veral oor pizza.

Ek glo dat byna almal van ons heeltemal te veel in die verlede leef. Dis alles goed en wel as ons iets daaruit leer, maar meeste van die tyd verlustig ons onsself só in die verlede, dat ons die hede én die toekoms totaal misloop.

Dan wonder ’n mens of herinnering so ’n goeie ding is. Hoekom kon ons nie maar almal net lewe vir die “nou” en die toekoms nie? Waarom terugkyk en verlang na wat was? En dit sluit nou nié pizza in nie.

Wag, laat ek myself korrigeer. Kyk, ek is lief vir pizza en sal bes moontlik altyd wees. Maar een ding het my nou die dag dwars in die krop gesteek. My lus vir pizza drup mos toe die aand skoon op die grond en ek haas my na ’n “take away” vir die nodige. Daar gekom, kan ek toe my eie pizza “bou”. Ek kies kaas heel eerste, want wat is ’n pizza nou sonder kaas? Ek word toe meegedeel: “Nege Namibiese dollar vir ekstra kaas.”

Nee, verduidelik ek, ek soek nie ekstra kaas nie, net sommer gewone kaas. Toe kyk sy my aan asof ek Daisy de Melcer is. Hierna kies ek bykomend sampioene, spek en pynappel. Doodtevrede wag ek hongerig vir dit wat ek glo my honger totaal en al sal hokslaan. Min het ek geweet dat dit wel my honger sal hokslaan – sonder om dit te bevredig!

Toe dit klaar opgelui is, klok my pizza in vir ’n volle N$44! Kyk, ek is sentimenteel en ek hou van eet, maar ek is nie so seker dat ek van die smaak van geld hou nie! Ek mag mal wees oor pizza, ek mag my in die media-wêreld bevind en daarom bes moontlik nie heeltemal normaal wees nie (hoe wil jy oorleef as jy normaal is, hê?!), maar mal in my kop is ek nog nie heeltemal nie. Ek kan net mooi veertien keer ’n vrugtesappie drink vir N$44! En ek hou net so baie van vrugtesap.

Dus, sentimenteel ofte not, vandag sweer ek pizza af. Dis óf dit óf ek moet ’n ryk kêrel kry. En ek dink ek sal maar “settle” vir eersgenoemde. Kêrels het te veel ekstra ka...as. Soos sekere pizzas wat ek in herinnering roep!

Ek is een van daardie mense wat elke briefie, elke blommetjie, elke ornamentjie (selfs al haat ek dit) sorgvuldig wegbêre. Net om dit ’n paar jaar later, as ek wéér al my besittings iewers heen moet karwei, uit te haal en lank oor alles te tob.

Geheue en herinnering is nie altyd sleg nie, (veral nie as ek terugdink aan al die melkskommels en goedkoop pizza van my studentedae nie!), maar as jy al die bondels rommel (want wat op dees aarde gaan ek met al die verjaardagkaartjies maak?!) bymekaar sit, is dit byna erger as al ’n mens se slegste herinneringe saam!

Ek hou van blomme ook. Baie. Maar as ek al die gedroogde blommetjies wat ek oor die jare opgegaar het (met al die stof wat dit opgegaar het), bymekaar sit, begin ek wonder...

En om te wonder, is gevaarlik. Jy mag dalk net ekstra ka...as op die koop toe kry! Maar behalwe vir sentimenteel is ek nog nuuskierig boonop. Miskien sal ek maar my kanse vat... Kaas ofte not! – 29 Maart 1994

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer