Des Erasmus
Des Erasmus

Siekwees ’n belewenis

Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus

Saterdagaand sit en kyk ek nog twee vuisvegters so op die kassietjie toe tref die hou my soos die skop van ’n voorlaaier.

Ek is nie ’n man wat ingaan vir siekte nie, maar kry ek hom, meen ek dit is ’n besigheid wat agter die rug moet kom. Dan konsentreer ek die olikheid in sulke klein, kragtige kompartemente soos die dinamiet wat in die klein pakkies kom.

Dis dié dat die ding my “floor” met Saterdagnag se vatslag.

“Man down!” Ja, so het ons geskreeu as ons se grasperkrugby van weleer soms in ’n doringbos geëindig het wat een van die grense gevorm het.

Die volgende oggend gaan my notisietjie toe per hand na die apteekster toe: “Van tweeuur tot sesuur vannag was dit dan bo, dan onder, dan onderstebo. Dit was dan op die hurke en dan op die sitvlak. Hierie jerks van my het my lyfseer gegee. Die res het gekom toe ek kooi toe moes storm om onder ’n armie-jas aan die kouekoors te ontkom. En ek is deurmekaar en ek het kopseer sonder ’n druppel oor my lippe. Ek wil nie kos sien nie. Soek net yswater. En dan voel ek nog ook nie lekker nie. Gou! Nee, ek bedoel GOU!”

Toe die honde blaf, weet ek my koerier is terug. Op die kassie voor die tafel word ’n klomp wit boksies gepak wat my herinner aan ’n weglê-nes op die plaas. Net dié denke laat my klaar beter voel.

Ongelukkig is dit “service with a smile”.

“Wat lag jy?”

“Ek lag, want die mense in die apteek lag oor jou briefie.”

“Lag om te wat? Lag om te dood?”

Ek bekyk die pille asof daar groter simpatie uit die botteltjies as uit die mense gaan kom.

“Neem twee. . .”

Dit verstaan ek, want die pil moet ingesluk word waar die kwaal uitgekom het. Ander is ses sulke pienk bomme. Die gebruiksaanwysings gee opdrag dat dit op ’n ander plek moet in.

Ek weier mompelend.

“Dit maak ek nie,” kom dit duidelik en protesterend.

“Dit maak jy!” kom die opdrag.

“Dit maak ek,” kantel ek. “Nou’s ek op die pil.”

Toe kom die diepe slaap, drome en genesing.

In die land van kamma nael ek voor ’n boewebende wat ’n bokseil oor my wil gooi. Ek skrik wakker met ’n dik kombers oor my kop. Ek staan by ’n rugoperasie, en skrik wakker met ’n katjie wat my met sy naels hier in die garings knie.

Dan roei ek lank en lekker op ’n stil meer.

Ek skrik uit ’n diepe slaap wakker en voel beter.

“Maak toe my oë, maak weer!”

Soms is dit ’n belewenis om siek te word.

Solank daar net vinnig aan die krankheid ontkom kan word.

– 22 April 1993

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!