Gerine Hoff
Gerine Hoff

Sit terug en ontspan

Gerine Hoff
Binge-watch

Werkwoord – Informeel.

Dit is hoe daarna verwys word wanneer jy jouself vergryp om tientalle episodes van ’n televisiereeks in so kort tyd as moontlik te kyk.

En het ek myself nie die vakansie vergryp nie! Op die oomblik is my vergryp-kykreeks The Resident.

Soos miljoene ander mense het ek besef binge-watching is ’n ontspannende tydverdryf, want jy hoef nie soos in die ou dae ’n week te wag vir die volgende episode nie.

Maar dis net een van die redes, want nou is dit maklik om meegevoer te raak met die storielyn.

Deesdae is daar mos kinkels, kabels en karakters waarvoor jy liefraak (of al hoe minder van hou). En as die gogga jou eers gebyt het, wil jy nie ophou nie want jy móét eenvoudig weet wat volgende gaan gebeur. So, as jy episode ná episode kyk, bly jy in die "story zone".

Ek dink juis die beste deel van binge-watching is dat jy nie ’n hele week vir ’n nuwe episode moet wag nie. Dit beteken ook dat jy kan kyk wanneer dit jou pas. Of dit nou oor ’n naweek is, of oor ’n paar dae – selfs oor ’n paar weke – die keuse is joune!

Dan is vergryp-kyk ’n lekker manier om van die alledaagse werklikhede te ontsnap. Erken dit maar – die lewe is stresvol.

So, om ure lank voor die kleinkassie, rekenaar of selfs op jou foon vasgenael te wees, is een van die maniere om vir ’n rukkie te ontsnap. Of dit nou ’n skreeusnaakse sitkom, ’n intense drama of ’n fantasiewêreld vol drake is, dit gee jou brein ’n blaaskans.

Terwyl vergryp-kyk myns insiens nie ’n sosiale aktiwiteit is nie, is daar vriende, familie en kollegas wat gemaklik saam kan kyk. Só kan jy teorieë oor die volgende episode of reeks deel, vir dieselfde grappies lag of oor jou gunstelingkarakters debatteer.

Gewilde reekse soos Game of Thrones (ek het dit nie gekyk nie en stel ook nie belang nie), is vir baie mense iets waaroor hulle kan bond.

En glo dit of nie, maar binge-watching stel dopamien – die voelgoedhormoon – in jou brein vry. Seker omdat dit elke keer as jy ’n episode klaar gekyk het soos ’n mylpaal voel wat jy bereik het.

En wanneer jy uiteindelik ’n hele reeks voltooi het? Dit is ’n klein oorwinning! Dit is bevredigend om ’n storie van begin tot einde te volg, veral as jy die karakters se storielyn noukeurig volg.

Nog ’n ding is dat jy kan kies watter reekse jy wil kyk. Stel nie belang in sci-fi nie? Dan hoef jy dit nie te kyk nie. Is rom-coms en mediese dramas meer jou ding?

Dan is daar legio keuses beskikbaar wanneer jy die reeks se naam intik.

Vergryp-kyk druk al die regte knoppies (sien wat ek daar gedoen het: Jy kan aangrypende stories maklik volg, dit gee jou ’n kans om van die alledaagse te ontsnap, jy kry onmiddellike bevrediging – en dit alles soos jý dit wil hê...

Of dit nou ’n luilekker naweek of ’n laataand-marathon is, daar is net iets besonders daaraan om terug te sit en die “play next”-knoppie te druk.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer