Skuinsdak-herinneringe
Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus
Vra hier op die werf twee bouers hoe hulle met ’n veelvoudige gemakshuisie vorder. Die lelies is gepluk en nou versink ’n sesgat-kontrepsie.
Vra ’n katlagster: “Nou wat weet jy eintlik van die goed af?”
Jak hom terug: “Ek ken van.”
Ken nou nie heeltemal van dié tipe spoelding nie, maar van die skuinsdakkies wat doer eenkant op die plaaswerf gestaan het. Dit was die dae toe die kos nog op die kombuis-Dover berei is en daai besigheid buite gedoen is.
Om die een of ander rede is afvalmateriaal altyd vir die nederige troon gebruik. Die dakkie moes skuins wees om die reënwater weg te voer. Die sement en sand was op voordat die kunswerk voltooi kon word. Nou slaan roustene plek-plek teen die muurwande uit. Balke was ’n kleinood in die temmersera. Toe word uie en pampoene gebruik om daar ryp te word en die beskutting in wind en weer in posisie te hou. Dae lank is die diep gat gegrawe, want dit moes die “long drop” verseker (met verskoning aan Naas Botha).
Soms het ek gewonder hoekom oorle ma altyd appels by die kis gekoop het. Soms het ek geweet. Elke appel was nog in sy eie papiertjie toegedraai. En op elke papiertjie staan “Granny Smith”, of “Golden Delicious” of “Winter Pomaine”. Dis dan ons Baby Soft. Maak jou plek.
Had die Langkloof daardie jaar ’n droogte, was daar nog altyd die harder weg van die Landbouweekblad. Dit was so ’n dubbeldoor. Lees hom eers voordat dit in die diepste duisternis gewerp word. So het ’n advertensie pa daar oorreed om ’n Ford te koop en is besluit om die rifrug se nege kleintjies daar te adverteer.
Auntie Anna het die plek ’n “closet” genoem. Pa het hom by ’n boerenaam genoem, maar ons mag dit nie voor ma napraat nie. Erken maar albei gesinslede en noem die plekkie dan ’n kloshuis.
Seker maar die plafonloosheid wat van die plekkie ’n warm kolletjie in die winter gemaak het. Dit ontdek ’n pofadder ook en neem sy intrek daar. Sus Sofia sien hom daar uit haar sittende posisie en gee ’n spring der spronge. Tog snaaks, van daardie dag af ly sy aan ’n hardlywigheid totdat sy weggetrek het na ’n plek met binnenshuise geriewe.
Bernie was ’n ryk man, maar bou vir hom ook so ’n enetjie naby die hoenderhok. Menige dag stap hy met potlood en papier daar in. Net soms ook met die Sondagkoerant se blokkiesraaisel. Hy bly egter byderwets en kom die koordlose telefoon, dra hy dit saam daar sy eensame afsondering in. En sit-sit-so bestel hy enigiets van verbruikersgoedere en satyn tot boorpunte en konkas diesel. Trieng-trieng, lui die telefoon. Kôk-kok, sê ’n weiende hoenderhen terug.
Dan wil iemand my kom vertel ek ken nie van ’n kloshuis nie!
Net om myne groei die wilgers welig.
Verlange ook.
– 22 Julie 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie