Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Slaan ’n nuwe blaadjie om

Iréne-Mari van der Walt
As tiener het die droom van joernalistiek konstant in my kop gemaal – ek kon aan niks anders dink nie.

Geen ander droom sou enige waarde gehad het as ek nie kon droom dat ek ook met ’n pen en notaboek in my hand iets in my klein hoekie van die wêreld kon verander nie.

Ek wou so graag soos die geharde joernaliste wees wat reeds een of twee keer om die baan is.

Die tiener-weergawe van myself sou jou uitlag as jy vir haar vertel het dat sy meer tyd sou bestee om outentieke bande met die naamloses in ons samelewing sou bou as wat sy sou rondjaag in die oorlog teen korrupsie.

Vandag is dit egter een van die gunsteling-dinge van my werk – om te kan lag en glimlag saam met mense wat nog in goedheid glo en om te kan deel in ’n verlede wat ek nooit beleef het nie.

Ek gesels onlangs met ’n swart man oor sy grootwordjare en die apartheidsera. Die man het entoesiaties oor die onderwerpe gesels en naderhand het hy sy hand op my voorarm gesit, soos hy verduidelik het hoe sy pa aan die einde van sy lewe sy hand gedruk het om te kommunikeer toe hy nie meer kon praat nie.

Dit val my toe by hoe gemaklik dit eintlik is. Ons is net mense wat met mekaar gesels. Ek gee nie om om my ouderdom weg te gee as ek kan sê dat ek nie in die apartheidsjare geleef het nie. Soms wonder ek hoe dit werklik was om altyd te vrees vir sulke oomblikke ingeval dinge ’n draai vir die ergste sou neem.

In ’n onafhanklike Namibië het ’n man so pas een van die kosbaarste oomblikke in sy lewe met my gedeel en ek is dankbaar dat hy dit in 2023 gedoen het. Ek is nie net dankbaar dat hy my daarmee vertrou het nie, maar dat hy meer as woorde kon deel en ek hierdie deel van hom saam met my kan vat waarookal die lewe my verder sal neem.

Die volwasse weergawe van myself soek niks meer as ’n rustige gesprek op ’n rusbank met ’n gawe persoon nie. Ek gee sonder twyfel my droom prys om in hierdie tyd in hierdie gesprek te kan deel.

Soveel soos ek vir myself sê dat ek soos my heldin Gwen Lister ’n bittereinder in die geveg teen apartheid sou wees, maar miskien val dit iewers onder die sielkundige konsep van “consensus bias” – die idee dat jou eie idees en gevoelens normaal en goedgesind is.

Gelukkig vir my kan ek nou die vrugte van Gwen se harde werk proe. Die feit dat ek nou ’n menslike oomblik met iemand kan deel, is beslis vir my soet, maar dit word effens versuur wanneer ek onthou dat ek niks kon bydra nie. Dit voel amper asof ek geld in die hand gestop is sonder enige verduideliking.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!