Slagtog se groot spog
Sê maar net 30 jaar gelede
Daar is seker ’n hele paar ooms en tantes in hierdie land wat ’n oorval sou gehad het as hulle die naweek saam met my op my beesslagtog was.
Die bees het op die einde van die dag in biltong en droëwors geëindig. Maar wat ’n tog was dit nie!
Die eerste groot taak was om my twee helpers, die een ’n prokureur en die ander ’n man wat met geld werk, aan die gang te kry. Dit was ’n taak wat geen mens my sou beny nie. Eerstens word daar gepak asof ons op ’n safari na midde-Afrika vertrek. Dit is klere, messe, gewere en natuurlik verversings. En ons toggie was maar na ’n bestemming so 120 km van Windhoek. En ons het nie eens gaan jag nie. Net ’n bees gaan slag.
En toe die gespoggery op die pad na die slagplek. Vir my het dit geklink asof hulle geheel en al hul beroep gemis het. Hulle moes al twee grootwildjagters gewees het. Die een kan mos net beter as die ander skiet. Hulle het daar van bokke en dinge gepraat wat hulle al neergetrek het – dinge wat ek nog nooit van gehoor het nie.
Ben se sterk punt is glo sy oog as hy korrel vat. Hy het daar ’n storie vertel van hoe hy drie springbokke met een koeël geskiet het en toe hulle by die bokke kom, moes hulle sien dat ’n rooikat ook in die slag gebly het. Ek wil nou nie juis skinder oor my vriende nie, maar ek dink hy lieg oor hierdie poging. Die storie van die twee bokke met een koeël klink meer aanvaarbaar. Maar die man is ’n prokureur en prokureurs mag mos nie liegstories vertel nie.
Lourens se stories het gedraai om sy vermoë as een van die beste slagters in die land. Eers later die naweek moes ek uitvind dat hy ook nie so lekker by die waarheid gebly het nie. Skiet wou hy ook nie, want hy skiet nie goed wat vir hom in die oë kyk nie. Heel aanvaarbare verskoning.
Ek self het vroeg op die tog gesê dat my kennis van vleiswerk maar beperk is, maar worsvleis kan ek sny en ek sal ook handgee met die stoppery. My gewete is dus skoon.
Eintlik is ek te skaam om verder te vertel.
Die skietery het goed afgeloop. Maar ai tog, daardie gelaaiery van die bees op die bakkie en die afslag.
Op die einde van die dag moes die man wat net saamgegaan het om te help, krag maak om die bees op die bakkie te kry en weer op die haak.
Met die vleis veilig agterop die bakkie is die pad Windhoek toe aangepak. Natuurlik is nie een van die plekkies met die stoeltjies verbygery nie, want my twee helpers was baie uitgeput ná die harde “werk” en hulle het energie uit die bottel nodig gehad. Of dit was hul rede vir die gestoppery.
En toe die vleiswerkery. Genadiglik is daar mense soos oom Koos, tannie Stienie en Ria op hierdie aardbol, anders het daardie klomp vleis nou nog agterop die bakkie gelê.
Ondanks al die beproewing wat ek die afgelope naweek deurgegaan het, hang die biltong en die wors. Die proeslag is natuurlik ’n ander storie.
Die ergste van alles is dat die twee breëbors rondloop en vertel hoe hard hulle gewerk het om die bees aan die haak te kry. Om nie eens te praat van al die geheime kunsies wat hulle beoefen het om die bees net reg af te slag en die regte snitte te sny nie. En dan doen hulle dit sonder om te bloos.
Maar ek gun hulle dit met my hele hart. Dit is net een keer ’n jaar dat ’n dorpsjapie kan rondloop en spog oor sy vermoëns op die bees-jagveld. – 4 Junie 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie