Anna-Marie Steenkamp
Anna-Marie Steenkamp

Smulpape en lekkerbekke

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Anna-Marie Steenkamp – Daar behoort ’n standbeeld opgerig te word ter ere van die ou wat eerste besluit het om vroue te verlos van die goorste taak op aarde: koskook.

In ’n restaurant sê jy, ek wil dáái hê, en jy hoef nie eens asseblief te sê nie.

Dit kos intensiewe navorsing om op jou gunsteling-restaurant en koffiekroegie af te kom. Maar ’n mens kry niks sonder moeite nie.

Die plekkie op die grondvloer langs die trap is ’n gesellige roesemoes. Vyfgang-noenmale kry jy nie daar nie, maar as jy ’n lekker middaghappie soek, is dit nét die plek. Veral as jy ’n broodvraat is. En tot oormaat van vreugde: hulle laat hul tee nie gifsterk trek voordat hulle jou bedien nie. Die mans vind die blonde kelnerinnetjie móói, dus gaan hulle graag soontoe.

Op die Platz is ’n ander eetplekkie. Nie ’n restaurant nie, nie ’n koffiekroeg nie – net ’n eetplekkie. Broodjies vir Afrika – en jy kan stapelbroodjies maak so hoog as jy wil. Een alleenloper-smulvraat het eintlik ’n gunstelingkelnerin met ’n Fransklinkende naam. Háár beveel hy by almal aan. Al probleem is: báie mense dink dis ’n oulike plekkie en stroom daarheen. Litte roer as jy ’n tafel wil kry.

Op die stoep onder die sambrele kan ’n mens gesellig kuier. Hulle het ’n vreemde cuisine – moenie soontoe gaan as jy net kos soek nie.

Chic, soos die Nederlander sê, maar hulle maak nie voorsiening vir die basiese (lees: barbaarse) smaak nie. Maar as jy ’n lekkerbek is, is die kos te min, nie lekker nie (want jy het ’n basiese, barbaarse smaak) en as dit by die betaalslag kom, moet jy die bankbestuurder gaan smeek om jou ’n oortrokke rekening toe te staan.

Dan liewer die plekke wat dink aan die mense met die basiese, barbaarse smaak. Die plek met die skaars opmerkbare naambord langs die blommeskouplek is die moeite werd, ’n smulpaap se droom. Gesellig sonder donderende popmusiek om jou spysvertering te laat oppak, en snelle diens. Genoeg kos en hulle eis nie die helfte van jou koninkryk in ruil daarvoor nie.

As jy sover kan kom om tydelik (báie tydelik) van jou basiese, barbaarse smaak afstand te doen, kan jy na Die Gedierte toe gaan.

Hompe vleis vir die wolwe van die samelewing. En as jy jou maag kan rek tot in ’n senior posisie, kry jy poeding verniet – oppie huis.

Gelukkig vermoed niemand dat jy ’n vraatsige smulpaap is nie, want jou heupmaat hou sy bek (en vetjies). As die duiwel nou maar net nie hoor dat jy dit sê en iets (goors en vets) vir jou beplan nie.

Laat ons vreetsaam verkeer. . . – 18 April 1995

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer