Augetto Graig
Augetto Graig

So veel om voor dankbaar te wees

Augetto Graig
Wees bly en wees dankbaar. Dit is amper Kersfees. Ons het die jaar oorleef.

Die jaar 2022 was rêrig nie speletjies nie.

Talle mense het nie hierdie mylpaal behaal nie. Ek het. Jy het. Ons het. Ons moet dankbaar daaroor wees. Ons kan dit vier; daarvoor dankie sê.

Die lewe is ’n gawe. Ons is elkeen nog ’n dag gegee. Ons het boonop die voorreg om nog een maal bymekaar te kan kom. Om saam te kan lag, om oomblikke te kan deel, om herinneringe te maak en om herinneringe weer oor te vertel. Om net weer as familie of vriende saam te kan wees. Dít is waardevol.

’n Skatkis vol emosies, die liefdevolle ervaring van familie en vriende in die omtes, die gegiggel van kinders en die reuk van Kersete is soos juwele wat die geleentheid versier.

Selfs al is jy nie vanjaar by jou mense nie, kan ons deesdae oor ongelooflike afstande kommunikeer en ’n boodskap kan ’n mens se gevoelens van ver af aanraak; iemand se dag spesiaal maak. Daar is ’n betowering in hierdie tyd, as jy dit sal toelaat.

Vergeet vir ’n rukkie van al die bekommernisse van die werklikheid. Laat jouself toe om die wonder van die lewe te ervaar. Wees bly. Wees dankbaar. Geniet die gees van Kersfees.

Daardie gees is nie beperk tot die Christen-geloof nie. Inteendeel is die boodskap van Jesus juis om jou medemens lief te hê. Jesus leer ook gelowiges dat dit nie hul plek is om ander te oordeel nie. Vergewe liewer die oortredinge van die verlede en los gister se seerkry agter jou. Maak jou hart oop en gee wat jy kan, as jy kan. Dit kan ’n verskil maak selfs om net vir iemand te glimlag.

Maak die verskil. Wees die een wat ander se lewens opkikker. Soms is dit so nodig en in vandag se lewe is dit soms so skaars. Bel iemand. Maak ’n grappie. Stuur ’n boodskap.

Die feestyd is slegs ’n feestyd as daar mense is wat hulself geniet. Geniet jouself. Geniet mekaar. Wees gesellig. Wees vrolik. Dit is nou die tyd daarvoor. Dit is nou die regte tyd om vreugde te versprei. Kersfees is amper hier. Maak jou reg om dit te geniet. Jy verdien dit; jy is dit aan jouself verskuldig.

Soos alles in die lewe sal hierdie seisoen ook té vinnig verbygaan. Die nuwe jaar sal nuwe uitdagings bring. Die kommerlyne op jou gesig sal dieper gekerf word. Jy hoef nie daaroor te twyfel nie. Gee eerder aandag aan jou laglyne, en verdiep hulle. Lag hardop. Lag lank en lag eerlik, selfs as jy vir jouself moet lag.

Ons moet ophou om alles en onsself te ernstig op te neem. Nou kan ons bietjie laf wees. Kielie jou kinders en soen jou eggenoot.

Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar!

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!