Audrey van der Westhuizen
Audrey van der Westhuizen

Soet en suur en soms ook bitter

Die lewe is nou eenmaal ’n soet-suur affêre – van begin tot einde.

Deur die jare en met tyd loop die bitterheid sy eie stroompie deur elke ou se lewensverhaal. In die gelukkiges se geval is die bitter ou stroompie darem heelwat dunner as by diegene wat nie soveel geluk ervaar nie. Diegene wat meen dit moet ’n lyding wees om te leef, beleef dan seker ’n hele klomp watervalle in die loop van hul lewensreis.

Depressielyers is nie noodwendig almal bittersiele nie. Ek ken heelwat van hulle, wat (soos ek) daarna streef om ’n bietjie lag in elke traan terug te sit (Robin Williams-styl). Soms is die humor waarmee jy hartseer en heimwee probeer verbloem, jou behoud in moeilike tye. Ons hoef nie almal in die diep donker gat te spring sodra depressie jou binneste begin versteur nie.

Sommige ouens gee hulself tog te gewillig oor aan die lyding van depressie. Nee wat mense, sit jou dan tog ’n bietjie teë teen die groot swart hond.

Ons moet in gedagte hou dat mense wat glad nie depressie ken of daaraan ly nie, meestal nie veel begrip het van ons donker gemoedstoestande en die gevolge daarvan nie. Soms gaan buitestanders nog uit hul pad om die depressielyer te laat verstaan dat hy/sy pieperig is of vertel vir jou jy moet jou sommer net regruk. Klink seker bekend, nie waar nie?

My enigste troos is om myself te paai deur net ’n bietjie humor in die hele “depressie-ding” te probeer inblaas. Ek het na jare wat ek met depressie sukkel uiteindelik die regte medikasie gekry en wanneer ek my daaglikse “hou-jou-bek”-pilletjie drink en nog steeds die druisende donkerte in my binneste voel woel, dan wend ek my na een van vele grappige tonele uit my geheue om my eie duiwels te besweer.

Ek glo as ek nog iets kan kry om oor te lag, is ek nie heeltemal verlore nie. Ek is van mening die pilletjie werk mooi saam met my doelbewuste verbeeldingsvlugte, sodat ek nie in sak en as bly sit nie. Dit help natuurlik dat ek geseënd is met ’n baie kleurvolle verbeeldingswêreld. As alles anders nie deurslaggewend in my bestryding van die depressie is nie, dan voer ek maar vir my “swart hond” ’n stukkie van my gunstelingsjokolade.

Let wel, liewe vriende en lesers, hierdie is nie ’n aanbeveling of ’n wenresep vir ander mense wat depressielyers is nie. Uiteindelik is dit maar net ’n vertelling waarmee ek graag wil oordra dat daar ook ’n ligter kant is aan die swaarkry met depressie en die hopelose lewensmoegheid wat hierdie kwaal oor jou kan bring.

Onthou tog net altyd, jy is nie alleen nie. Daar is baie meer van ons as net ek en jy.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer