Soms wonder ons. . . waar het dit alles begin?
Theresa van Zyl – Ek sit hier met papier en potlood in die hand.
Die bladsy is skoon, selfs sonder lyne. Sonder lyne . . . is dit dieselfde as “sonder grense”? ’n Boek sonder lyne, ’n lewe sonder grense? ’n Skrywer sonder woorde?
Vir die eerste keer in té lank sit ek vanaand in kerslig. Nou gaan ek eers koffie maak. Is dit regtig so belangrik dat ek dit nóú moet doen? Of is ek al klaar bang vir die groot niks wat gebeur wanneer ek wil skryf? Wel, dalk moet die koffie eers wag. Ek kan nou uiteindelik alleen en stil wees te midde van ander mense in die huis. Elk besig met sy eie dinge. Nou’s daar tyd – miskien ’n minuut, miskien ’n uur. Dit vat net ’n paar sekondes om te begin. Te begin skryf aan die boek oor my lewe. Die boek wat ek weet ek móét skryf.
’n Boek? ’n Reeks boeke? Moet ek ’n paar vrouekarakters skep, elk met haar eie storielyn, haar eie liefde en lewe? En ’n paar manlike karakters om by elk van hulle te pas? Elke paar met hulle eie “issues”, “hang-ups” en bagasie?
Toe ek met ’n vriendin hieroor praat, lag sy en wil weet hoekom ek dan verskeie vrouekarakters wil skep om mý verhaal te vertel? My antwoord was dat daar te veel stories is om alles met een karakter te laat gebeur. Haar reaksie was net:
“My maat, maar al hierdie stories hét met net een karakter gebeur – met jóú. Skryf dit neer. Alles. Nie net die mooie nie, nie net die glimlag-lewe wat jy vir die wêreld gewys het nie. Gaan terug, skryf die realiteit neer nés dit gebeur het. Moet niks weglaat nie, moet niks verander of beter maak as wat dit was nie. Skryf ook die slegte dinge, die seer, die teleurstelling, die lelike dinge, die skuldgevoelens neer. Skryf net.
En soos jy skryf, sal jy dinge kan begin verwerk. Want jy het nog nie. Alles wat seergemaak of verkeerd geloop het in jou lewe, het jy net na iewers agter in jou brein geskuif en gemaak asof dit nie daar is nie, nie gebeur het nie. Of later – jy sal dit láter hanteer. Maar jy het nie. Jy’t nog niks verwerk nie, daarom kon jy nog niks agterlaat nie, niks afhandel nie. Jou later het nou gekom.
Skryf jouself deur dit. Dis al hoe jy jou lewe tot hiertoe in perspektief sal kan sien, sodat jy kan verstaan hoekom jy nou is waar jy is. Jy sal in die proses dalk ’n paar rowe moet afkrap. Doen dit, laat dit bloei. Dan sal jy genees, eers nadat jy opnuut gebreek het. Werk deur elke stuk seer en dan los jy dit agter. Elke skerf en elke splinter. Dis dan nie meer joune om saam te dra nie. Dis verby. Los dit, sit dit voor God se voete neer. Breek al die kettings wat jou vashou, wat jou probeer terughou van dit wat God bedoel het vir jou om te wees en te doen en te voltooi op hierdie aarde.”
My Godgegewe doel op hierdie aarde is om te skryf. Ek weet dit. Van solank terug as wat ek kan onthou, was ek maar altyd besig met stories en boeke en lees en skryf. My idee van sosiaal verkeer was besoeke aan biblioteke en boekwinkels met my konstante metgeselle my verbeelding en katte.
Dit laat mens wonder – waar het dit alles begin met my? En waar het alles begin met jou, in jou lewe?
Kom ek vertel jou volgende keer verder. Tot dan volg ons soggens die rooiliggie-trein werk toe, skool toe met die vroegwinter oggendasem wat soos ’n kouesnoet-woef sy neus teen ons druk en herinner om na daardie trui of serp te gryp.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie